Sunday, 12 October 2014

Indië

By die lughawe land ons van Abu Dhabi en die lughawe personeel is bang vir die Ebola virus. Hulle wil presies weet waar jy die laaste 6 dae was.

Dit voel onmiddellik 3de wêrelds wanneer die passasiers met daardie massiewe sakke wag vir die doeane. Dit vat seker 2 ure om uit die lughawe te kom. Buite wag Shakeel vir my met 'n bordjie wat sê mr Gerdus. Die stad is verlate en pragtig. Alles is so briekrooi en wit geverf en oud. Ek wil sê dat almal moet teminste eenmaal Jaipur toe kom.

By die polo hou ek vreeslik van die wakker flink perdjies. Hulle enkels is goed beskerm want daai lang polo stokke kom met 'n spoed af. Die game is die lekkerste net langs die baan waar jy die gesnork van die perde hoor waneer hulle verby jou hardloop en wanneer hulle tot oor die kantlyn hardloop en die mense moet spat om uit hulle pad te kom. Jou sintuie word verder gebombardeer wanneer die doedelsak band begin met hulle weemoedige liedjie geklee in hulle wit en rooi. Dit voel so koloniaal British. INCREDIBLE India!

By die stopstraat druk die vuil kind haar gesiggie teen die ruit en wys na haar mond en dan haar maag. Ek kry haar so jammer en my hart bloei vir al die straatkinders hier. Orals loop koeie rond en eet die vuilgoed wat net so op die strate uitgegooi word.

Terug by my kamer maak ons reg om van daai heerlike Indiese brode te eet en Dahl. Dit is so kerrie mengsel van boontjies. Heerlik! By die straat loop ons amper vas in 3 olifante wat straat afstap. Net in Indië!

Friday, 25 July 2014

26 Julie

Soos Sas sê, jy is ons gemhunter van die familie. Ek voel nou soos 'n ware gemhunter. Die tentjie gee maar net 'n fraksie van 'n millimeter se beskerming teen die elemente. Vandag is my laaste dag hier by die myn voordat ek terugkeer Suid Afrika toe.

Die lewe is so suiwer hier. Die mense leef eenvoudig. Die internet en die die TV het nog nie hier uitgekom nie. Statistieke sê dat die gedeelte van Afrika meer as 50% van hulle geld op kos spandeer . Hulle werk letterlik net om te kan eet. My myners werk die hele dag hard vir 'n klein salaris wat net genoeg is om hulle kos te voorsien. Maar dan is daar geen werkverskaffing hier nie en die bietjie werk vir geld word baie waardeer.

Gister het ek saam met sersant Philemon Phompe van Mzimba af gery. Die Sersant sê dat hulle stasie nie 'n voertuig het nie. Hulle moet per fiets hulle patrolering doen. Hy bly hier met sy vrou en 4 kinders in 'n baie klein huisie. Hulle grootste probleem in die area is maar domestic violence agv drank misbruik. Hulle brou so 'n tipe mampoer wat amper net alkohol is. Die mense hier drink dit graag want dit is goedkoop.

Twee dae terug was ons by die mark in 'n naburige dorpie om bokvleis te koop vir die myners en hier was omtrent almal dronk van die mampoer. Hulle kan nie wag vir markdag want dit is ook groot drinkdag. Dit is nogal hartseer.

Madeliso my myn kaptein is 'n juweel. Hy het God met 'n passie lief en hy het sy pa verloor aan die drank en hy het ook 'n eed geneem om nooit in sy lewe te drink nie. 5.30 in die oggend kom roep hy my by die tent. Sir it is time for prayer. Sy geloof is groot, baie groot. Hy bid dit die Here die stene beter sal maak en die myners eerlik. Vanoggend het hy skoon die myners wat klippe steel weg gebid van die myn af. Hy begin al 4 uur die oggend te bid. Gistermiddag was ons na Dave Banda sê Ma se huis om vir haar te gaan bid. Sy weeg letterlik net 35 kg en sy is 'n lang dame. Asma en pyne oral was die klagte. Haar oë was skoon dof soos die lewe uit die oë gegaan het van al die pyn. My hart het uitgeroep na God en ek vertrou dat die Here haar aangeraak het.

Na werk het ek almal betaal by my tent en dan elke een se sakke deurgesoek. Die een ou het omtrent 30 gram se stene gesteel. Ek het geweet hy steel want ek het sy bodylanguage dopgehou. Dit is omtrent 10% van al my klippe wat ek gemyn het. Dit is 'n dergelike probleem.

Toe is ons na die finale sokker beker wedstryd vir die distrik. So 13 km van die myn af. My myners wou so graag die game sien. Ek het soos 'n seer vinger uit gesteek tussen die skare van so 400-500 mense. Die prysgeld was 1 miljoen Kwacha. Dit is baie geld vir die arm land. Almal staan skouer aan skouer reg om die baan op die kantlyne en binne die kantlyn is ouens met 'n lat. Waag net om jou voet oor die lyn te sit dan word jy gepiets. Maar as jou span 'n goal score is helfte van die skare op die baan. Dit is moeilik om te onderskei tussen die spelers want elke ou het omtrent 'n ander kleur broek en kouse aan. Wel die wit span het 3-1 gewen en my ouens was nie happy nie want hulle het vir die groen span geskreeu. Ek is toe braaf en sê dat die wit span my favorites was.

More gaan ek terug Mzimba toe om die container te probeer vol kry. Chris is met my nog net tot die einde van die maand dan is die verantwoordelikheid terug by my. Die Sjinese kom die 10de Augustus en dan sal ek sien hoe ernstig hulle is our hulle laer graad beryl want ek gaan nie aan met die mynery as hulle nie hulle beursies oopmaak nie.

Tot vlg maand wanneer die Sjinese kom...... To be continued........

Saturday, 5 July 2014

6 Julie

By die lughawe sien ons rolle rooi tapyte en manne in luiperd velle wat rond dans. Hulle het toe net vir Mugabe verwelkom wat in sy eie vlug daar aangekom het. Alle verkeer word gestop want die entourage is op pad dorp toe. Flitsende ligte en loeiende alarms voltooi die prentjie. Afrika!

In Lilongwe beland ek in die rykmansbuurt en sien 'n ander sy van Lilongwe. Boardwalk Estates kan amper 'n paar lesse hier kom leer. Een kasarm van 'n huis op die ander. Ek soek slaapplek hier by die lodges maar gee toe maar op en gaan eerder middestad toe. Die pryse daar is 5 maal goedkoper.

Bekende geluide hier in Malawi maak mens vroegoggend wakker wanneer die Muslims hulle volgelinge roep tot gebed. Maar te erg is te erg. Hulle begin all 3 uur en hou 'n hele uur aan want dit is nou Ramadan. Die imam lees iets uit die Koran en sing dan iets en so gaan hulle aan vir 'n uur. Dan is ek wakker en kan nie weer slaap nie.

17 Julie
Mjinge myn, teen Zambië se grens. Die grens is letterlik 200 meter van my kamp. Dit is vroegoggend en ons word wakker met die Kwêvoëls en tortelduiwe. 'n Baie lekkerder klank as die Moslems se gesanik.

Gister sê Malenga vir my dat die mynery soos die lotto is en dit lyk nogal so. Geen wonder die gesnyde stene is so duur nie. Want dit vat 'n massiewe effort om die stene te kry.

Ek is nou so een en 'n half week hier en soek nog na die sweet spot. Die probleem is dat die pik en graaf net te stadig is na my liking. Vanoggend vertel Bentley my dat hulle net 4 meter van waar ons nou myn 'n groot stash gekry het van oor die een kg se gems in een dag. Ek trek nou by 72 gram se hoë graad stene in 8 dae en 16.5 ton se lae graad in my stoor.

Die aquamarine is deel van 'n antieke deposito wat eens die bodem was van 'n binnelandse see. Al die klippe is in een gruis laag neergelê wat bestaan uit, swart toermalyn, kwarts, mica en nog so verskeidenheid ander klippies. Binne hierdie konglomeraat kry jy so verdwaalde aquamarine of 2 wat 5-10mm groot is. Die kleur van sommige is 'n besondere blou wat as AAA geklassifiseer kan word. Wat beteken dit? Jy begin by A en gaan dan na AAAAA. Ek het nog nie die 5xA hier teegekom nie. Gaan ek geld maak hier? As ek my kostes kan laag hou sal ek sekerlik geld maak hier.

Die Sjinese kom volgende maand kyk hoe ons myn. Ek dink hulle gaan verbaas wees oor die primitiewe toestande en ook verbaas wees oor die omvang en grote van hoeveel beryl hier is. Ek is bly dat ek met my aankoms hier in 'n heel nuwe area 3 nuwe myne oopgemaak het. Die area het groot potensiaal. Die beryl wat hier uitkom het 'n donkergroen kleur wat dalk na 'n mooi donker blou kan verander as dit verhit word. Hou vir my duim vas dat dit wel so sal wees. Ek bring voorbeelde saam die einde van die maand om te verhit.

Ek het 'n lang lys van vereistes aan die Sjinese neergelê en toe het hulle sowaar die vermetelheid om te vra hoe ek hulle gaan terugbetaal. Ek het dadelik terugskryf dat daar geen terugbetaling gaan wees nie. Julle kom met die bereidwilligheid om te belê of julle bly in Sjina. My vereistes: Ek soek 'n kamp vir my myn. Voertuig en excavator. Ons sal maar sien hoe groot hulle die hand gaan oopmaak.

Die werkers kom almal van naburige huise en dit maak dit maklik hier want aan die einde van die dag raak die kamp stil en is dit net die naggeluide en o ja die een ou se hifi wat in die verte blêr. Pa klink dit bekend?

Nou ja laat ek terug myn toe om die werkers op te pas dat hulle nie steel nie.

Thursday, 19 June 2014

19 Junie

Hong Kong

In die eetplek sit 'n Sjinees oorkant my en praat kliphard met homself. Buite klik klik klik die verkeersligte kliphard soos hulle van kleur verander. Almal hardloop van plek na plek met pakkies onder die arm. Die trokdrywer het lankal sy hemp uitgetrek want die temperature is in die 30.

Ek het besluit om vinnig Hong Kong toe te kom om my klippies te kom verkoop. Ek spandeer 'n baie interessante oggend saam met Jonathan om van plek na plek te gaan om te probeer om agter te kom wie van die mense nou werklik in aquamarine deel en wat is die werklike markwaarde van my klippe in die kompeterende mark waar almal net die beste soek. Ek kry 'n onrealistiese bestelling vir 10 containers vir amazonite can Yee On Gems. Sy prys is net $1.30 per kg. 'n Volgende plek offer my $3 per kg vir dieselfde klip en by Abbas gems sien ek die klip vir $45 per kg. Nou vra ek myself die vraag wat Confusios gevra het. "Wat is die lengte van die string?" Gou besef ek dat my klippe nie hoog genoeg geag word om gesog te wees in Hong Kong nie. Ek verkoop gelukkig die gross van die groter klippe aan Frank om net my koste te dek. ISMAEL sê my day die mark vir aquamarine nie in Hong Kong is nie maar in Bangkok.

Die Here lei my na 2 mense wat my lewe inpakteer. By Kady sien ek die mooiste aquamarine en hy vertel my sy storie. Dit is soos Gemhunt en nog beter. Die winste wat gemaak kan word is so groot. Hy admireer my want hy moes amper R400 000 uitlê om die pakkie te koop en ek begin vlg maand dieselfde tipe klip myn op die Zambië Malawi grens. En in 'n oomblik sien ek die lig. Want het die Here nie net twee weke gelede vir ons die belofte gegee nie en het hy nie gesê dat die gou gaan gebeur nie.

Al wat ek kan sê is dat julle my maar moet dophou om te sien hoe dit gaan gebeur. I believe because God had said it and He is not a man that he should lie.

More gaan ek Sjina toe om my klippe in te gee vir snywerk en om al die aquamarine traders te sien in Liwan Plaza en ook my vrou te sien want ons is vandag 27 jaar getroud.

Tuesday, 29 April 2014

30 April

Ons moet die produksie opstoot en ons gaan koop ekstra grawe en ander goed. 'n Graaf kos R100 en ons moet 24 grawe koop. Saam met grawe is daar pikke, potte, waterkanne en 'n seil vir 'n dak wat elke myn nodig het. Ons laai Donald Mbewe se spannetjie en ry uit na sy myn. Net buite die dorp stop die verkeerspolisie my. Sir you have too many people on this vehicle. You are only allowed to carry 6 passengers. The fine is 5000 Kwacha. Die ou wat die betalings bewys uitskryf is in wit klere geklee met wit handskoene.

By die Luwawa lodge se pad draai ons af en Donald sê dat dit 20 km daar in is. 'n Afrika 20km op paaie wat enige mens sal toets. Die pad is nat en vol gate. Ek kan net 20 km per uur ry. So 3 km voor die myn kom ons nie by 'n bult uit nie en al 9 mense op die bakkie moet stoot. Die clutch stink naderhand en met 'n groot gesukkel kom ons die bult uit om te sien dat die ander kant van die nek weer steil af is en die suur in my maag brand my soos ek stress oor die trip terug want dan het ons geen mense om te help stoot. Die probleem met die bakkie is dat hy geen kompressie in 2 van sy silinders het nie en dat hy dus geen krag het teen die opdraandes nie.

By die nuwe myn steek die beryl sommer bo op die grond uit en ek kan sien hoekom hulle die plek gekies het. Ons laai die myners af en vat die pad terug.

Ek besluit dat daar net een manier is om die bulte aan te vat en dit is met spoed. Ek sit hom in 1ste en jaag hop hop teen die eerste bult uit. Ons maak dit net net teen die laaste bult uit maar al die geskud het die bedrading los geskud en die Hilux wil nie verder nie. Na so 30 minute se soek kry Samson die probleem en ons is weer op pad.

Die volgende oggend laai ons vir Kayinga Gama op en Martha Ngira en hak die trailer. Vandag moet ons 2 ton se klip laai met die bakkie wat geen krag het nie en ek sien nie uit daarna nie. Ek vat die stuur. Hulle sê dit is 70 km ver en ek las nog 20 km by want Oupa sê dat die klomp geen benul van tyd of afstand het nie. Die veerstelsel op die bakkie is nie goed nie en hy bokspring behoorlik op die slegte pad. Dit voel asof ek op een van daai masjiene is met die belde wat jou so skud. Dit vat ons 2 ure tot by die myn.

By die myn sien ek dat die tailgate hang soos my Colt s'n was voordat ek dit reggemaak het. Samson en Bonniface maak die tailgate vas en die bullbar voor ook vas.

Kanyinga haal n mooi parcel tantalite uit en my trip raak al beter. Hy het ook 400 kg se beryl. Dit het hom 9 maande geneem om die 400 kg bymekaar te maak. Dit is nou maar die realiteit by sommige myne. Kanyinga sê dat 'n mens nie haastig moet wees vir geld as jy myn nie. Maar ons kan nie daardie filosofie aanneem nie, want dan word jy net soos die Malawiers.

Toe vat ons die pad na Martha se myn. Sy reken dat sy 3 produserende myne het en dat sy een van ons groot verskaffers gaan wees. Vroeër die oggend het sy vir Chris tromp op geloop omdat hy rook. So gemoedere in die kar is effens styf.

Martha lyk nie asof sy presies weet waar haar myne is nie en ons moet 'n slag of twee omdraai en 'n ander pad vat. Uiteindelik kom ons by 'n village aan waar 'n klomp maer ou mense sit. Ons parkeer die bakkie en sy join hulle onder die lapa. Nou wag ons en so 2 ure later kom ons agter dat niemand weet waar die 2 ton klip is of die man wat die 50 sakke kom haal het vir die twee ton klip. Net die vorige naweek het ons Martha 20 000 Kwacha gegee om myn toe te gaan en alles te reël vir ons trip Dinsdag. Obviously was sy nie die naweek by haar myn nie en het sy die 20 000 vir ander goed gebruik. Dit gee nuwe betekenis aan die term "caught with your pants down". Eers is sy die righteous een wat Chris aanvat oor sy lewenstyl en toe vind ons uit dat sy nie so Kosher is omdat sy ons verseker het dat sy die naweek by haar myn was en dat als gereël is.

Toe ry ons maar net leë trailer terug en so 20 km verder slaan ek 'n pothole voor 'n brug en breek die trailer se hak morsaf. Gelukkig het ek die seker gemaak dat die trailer se ketting gehak is en ons kry gestop met die trailer voordat hy verloor. Nou kan ons net 20 km per uur aansukkel en kom eers donker by Mzimba aan.

Nou ry ons Mzuzu toe om die hilux uit te sorteer.

Saturday, 26 April 2014

26 April

Vanoggend vroeg bel Chris my en hy is ongelukkig. Hy en Donald is aanmekaar. Chris het weer gisteraand gaan drink en een van die ouens het hom gaan klik by Donald. Die fout wat hy gemaak het is om saam met Samson die drywer kroeg toe te gaan en eers 2 uur die oggend by die warehouse te kom. Al rasende.

Vanoggend loop Donald hulle altwee in en toe spat die vonke. Donald noem vir Chris 'n dronkaard en hy neem eksepsie. Ek is mos goed met versoening en moes die 2 eers goed als laat uitpraat en toe laat bladskud.

Die oggend is dit baie besig met almal wat probeer om klip aan ons te verkoop. Ek koop 'n sakkie epidote vir goedkoop en so 'n bietjie gems. Een ou kom daar aan met mooi blou klippies en ek spandeer seker 'n uur om sy parcel te waardeer en kry 42.7 gram gem. Ek werk n prys uit van R500 vir die lot. Hy reken hy will R10 000 hê en ons is so vêr apart dat ek glad nie enige besigheid met hom kan doen nie.

Ons kyk na al ons opsies om die groot kristalle te gaan laai so 38km weg en besluit op 'n trekker en sleepwa. Die opsie is so twee derdes van die trok se prys. Die klip is hier en dit is nou al donker en almal werk oortyd want hulle soek geld. More is kersfees want dan moet ek almal betaal. Agtermiddag wou die starter al weer nie werk nie en ek kickstart die Hilux om 200 meter verder uit te vind dat die clutch se kabel gegroet het. Ek los die kar net daar en stap terug warehouse toe. Samson ruk die kabel uit en gaan soek 'n ander. Die Hilux sal hopelik more middag weer mobiel wees. Ons is nou behoorlik op met die voertuig.

Gister sukkel ek om oor die stuurwiel te sien en doen nader ondersoek. Die sitplek se mounting het 'n groot gat in die vloer van die bakkie gestamp en dit is hoekom ek so laag sit. Nogal snaaks né.

Vir die laaste 4 dae is die internet omtrent morsdood in Mzimba. Jy kan amper niks doen nie. Ek kan glad nie my online spreadsheets oopmaak nie en dit frustreer my. Dit sal 'n wonder wees as ek die blog kan post vanaand.

Friday, 25 April 2014

23 April

Ek sit op die leë vliegtuig en dit voel onwerklik want als werk op die vliegtuig en alles is skoon en netjies. Ek dog ek vlieg met Ethiopië airlines maar die vliegtuig sê Malawi airlines binne.

By Blantyre maak ons 'n vinnige stop en die mense vra ons om eers deur paspoort beheer te gaan en dan weer op die vliegtuig te klim. Die lughawe is warm en na so 40 minute is ons terug in die lug om amper dadelik in Lilongwe te land. Groot is my verbasing om te sien dat George Mandula van Bollore Africa daar vir my wag. Hy maak 'n vinnige stop langs die pad om werkers te betaal wat sy mielies oes.

By sy kantoor gooi hy my met 'n curveball. Hy wil my R12000 ekstra vra omdat ons nie sy trok gebruik om die container te laai in Mzimba nie. Ek kla en hy kom af na R7700.00, ek kla nog een keer en hy kom af na R4800.00. Ek voel bedrieg want ek kan glad nie sien waarom hy die ekstra koste hef nie. Ek loop uit sy kantoor uit en is nou weer op soek na transport en dit voel soos laas maand van voor af. Hulle sien jou wit vel en sien groot geld en vat dan advantage van jou.

George laai my naby my guest house af. Toe wag ek vir 'n minibus. En ek ervaar weer een van daai tipiese Afrika ondervindings. Die taxi stop en hy lyk oorvol en ek moet indruk. 4 mense in 'n ry. En die musiek boom boom in jou ore terwyl die taxi die potholes dodge.

Die volgende oggend soek ek 'n nuwe distributor vir die hilux in die plek waar die potholes so groot is soos swembaddens. Jy kan 'n hele taxi in een van die gate parkeer. Na hewige kibbeling kry ek die prys af van 70 000 tot 55 000 maar hulle wil nie verder af nie. Dit is nou so 'n uur later en ek betaal toe maar die stewige prys.

Ek is nie lus om weer soos 'n sardyn in 'n blik te reis nie en betaal die ekstra geldjie om my eie sitplek in die coach bus te hê. Ek vat die heel voorste sitplek wat ekstra beenspasie het. Na drie en 'n half ure is ek in Mzimba.

My kamer het geen ceiling en die gordyn is net 'n lap voor die venster, maar die matras is OK en daar is 'n muskietnet. Ek het selfs warm water. Als vir R55.00 per aand.

Die volgende oggend is die distributor in die Hilux en hy loop weer. Maar nou lol die starter. Dan start by en dan wil hy nie start nie. Amper soos die ou wat vir Koop gevra het om te doen of die flicker werk. Ja hy werk, nee by werk nie, ja nou werk jy weer.

Die stoor lyk netjies en ek en Chris gesels land en sand. Strategieë word bespreek, hy is net bly om weer 'n ryding te hê wat werk. Die laaste 2 weke kon hulle omtrent nie by die myne uitkom want die Hilux het meer gestaan as wat hy gery het.

Ons wag die hele oggend vir die mechanic om die starter reg te maak en ons kon eers 1 uur weg na die myne

Hierdie opsomming is net vir Oupa. Hy sal dit baie waardeer.

Ons eerste stop is die Pastoor se myn. Toe ons verby die kampplek ry dink ek aan die lekker tyd wat ek en Pa daar gehad het. Maar groot is my teleurstelling toe ek niemand by die put kry nie en net 27 kg se klip. Ek kry vir Ray uiteindelik in die hande. Hy sê dat hulle nou net 2 werkers is en dat hulle besig is om te bench. Hulle werk nou aan die linkerkant se gat Pa. Hy wil sy eie put hê en ek moedig hom aan.

Toe gaan ons na Thole se myn en die hele wêreld is vol groot kristalle. 7 ton se produksie. Die grootste kristal is amper 200 kg en nog mooi daarby. My uitstaande betaling daar is amper R20 000. Almal glimlag groot want more kry hulle geld.

By die Luwasozi myn is gemoedere weer laag. Hier is net 20 kg se klip en amper alles lae graad. Die myn lyk nie asof hy gaan geld maak nie maar het van die beste klip as ons net die pockets kan kry. Die myn was voorheen gemyn deur 'n Italianer vir 6 jaar.

By Gausi myn tell ons 9 sakke op en hulle vra of ek hulle salarisse ook gaan betaal nadat ek seker 10 keer vir hulle gesê het saam met Pa dat ek nie weer salarisse gaan betaal nie. Hulle wil nie die geld vat nie en wil more eers ons kom sien by die warehouse. Ek sal net glimlag en vir Donald los om hulle te paai en hulle issues uit te sorteer.

Die goeie nuus is dat ek 'n ander shipper gekry het en dat hulle omtrent R8000 goedkoper is as die ouens wat ek laas gebruik het. Hoe sê hulle, die eerste keer sal jy altyd skoolgeld betaal. Nou moet ek net die klip gelaai kry.

Monday, 24 March 2014

25 Maart

Ek is gescam! Nadat ons 39 oproepe gemaak het na verskeie vervoer maatskappye en 2 mense mee onderhoud gevoer het wat my $5000 wou vra vir net 8 dromme se klip se vervoer, kry ek vir John wat vanaf Suid Afrika 'n logistieke maatskappy met die naam Jhonnysway Logistics bedryf. Hy antwoord sy emails flink en sê dat ek hom in sy FNB rekening kan betaal. My dollars is min en ek het te min geld oor om vir die freight hier te betaal. John bel my op my Malawi nommer verskeie kere en sê dat hy 'n trok het wat vroeër kan laai, eerder as later en ek byt aan die hoek. Hy vra vir die export docs per epos en herken die ontvangs van die papiere en skryf terug dat hy dit na sy freight forwarder gestuur het en dat alles geclear is. Sy trok sal Saterdag by ons wees en ek moet asb net die 50% deposito van R9375 inbetaal dan laai sy trok. Ek is so stupid om die geld oor te betaal en kry nou glad nie meer vir John in die hande nie. In hindsight moes ek seker eers die ou beter uitgekyk het. Ek moes seker eers vir die trok gewag het. Ek moes seker meer geduldig gewees het en ingepas het by Malawi tyd totdat Donald hulle vir my vrag gereel het. Ons het dan al 'n week gewag vir hulle om die vrag vanaf Mzimba tot Lilongwe te vervoer. Oupa gaan al van sy kop af en wou al lankal by die huis gewees het. Nou sit hy nog in Malawi.

Ek is seker my geld kwyt maar darem nie my klip nie. Ek ys as ek dink dat hulle dalk my klip ook kon gesteel het. Imagine as hulle die klip gelaai het en dit dan ook nog gevat het. Ek hoop om meer as R200 000 vir die lot te kry. Ek sal nog R9375 moet bysit om my verlies op te maak.

Sunday, 23 March 2014

23 Maart

Hier langs die meer gebeur dinge nog net soos dit 30 jaar terug gebeur het. Dit is Sondag en dan is dit die kinders se beurt om die potte en panne by die meer te gaan was net langs die groot hout boot wat regmaak om te gaan visvang.

Die klein meisiekinders is nie op hulle bek geval nie toe hulle sien dat ons wil fotos neem nie. 'give me money'  Hulle weet hoe die toeriste ding werk. Hulle pla ons nie regtig nie maar die smouse doen wel. Hulle kom na jou lodge waar jy sit en koffie drink en hulle aanvaar geen verskoning nie. Hulle wil jou hulle skilderye wys en hulle curios. Want jy is hulle enigste bron van inkomste in die stil seisoen. Dit pla nogal.

Ons het besluit om die naweek meer toe te kom net om weg te kom uit die geroesemoes van lilongwe. Ons kom so laatmiddag by die meer aan en vat die eerste pad uit na 'n lodge. Die pad hou vir ewig aan en ons kom by so fancy verslete plek aan. Ek weet dit klink na 'n weerspreking, maar hier in Malawi is alles maar verslete. Gewoonlik werk omtrent niks nie. As jy warm water kry in 'n stort is dit soos 'n wonderwerk. Ek klim uit die bakkie en vra 'n prys. Only 22000 for a single room. Thanks but no thanks. Ons is nou op 'n tight budget. Ons ry verder. So teen skemer kry ons 'n paar lodges wat reg langs mekaar lê. Ons stop by die eerste een en klim nie eers uit ons kar nie want die blink motors in die parkeerterrein vertel die hele storie. EXPENSIVE!

Die lodge langsaan lyk verslete genoeg om goedkoper te wees. Ons onderhandel op die prys en kry R100 afslag. Die 2 aande kos ons 20 000 Kwacha vir altwee aande. Nog steeds duur maar ons betaal maar want ons is reg teen die meer.

Die kamertjies is knus maar charming. Oupa kry nie die warm water kraan oop nie en vat 'n koue stort maar ek geniet 'n lekker warm een. Net buite die kamer is die mooiste topiarie, 'n Olifant wat my haak met sy tand en met die stap ek in die oorhang van die grasdak wat my 'n klits hou teen die kop kap.

Ons wag vir John met sy trok wat reken dat hy die 2 dae wat dit ons gevat het om tot in Malawi te kom in een dag kan doen. Ons afspraak is vir more om te laai en ons sal sien of dit gaan gebeur.

Ons besluit om eers voëltjies te gaan kyk en by die vleilande word ons weer oorval deur klonkies wat of geld of leë bottels of jou pen wil hê. Naderhand raak dit irriterend en ons verkas na die curiomark waar elke ou ook alles aan jou wil verkoop. Die ou wat die gras helikopters maak wil jou wys hoe die propeller draai en van die telefoon wat weggesteek is in die huis se dak. Ons het geen budget vir curios nie en besluit om te kyk hoe die heel rykstes hier vakansie hou. By die Sunbird livingstonia lodge kos dit net R2600 vir 'n kamer. Ouch.

Langsaan is n kampplek in die paradys. Prentjiemooi, ek het al n foto opgesit by whatsap. Net 1500 Kwacha per persoon. So 2 km van daar is die Cool runnings oord. So rustige plek met tonne atmosfeer. Boek hoekie en strand banke op groen gras voltooi die prentjie. Annalie ek kom jou die plek wys en dan bly ons 'n paar dae hier.

Terwyl ons wag vir middagete kyk ons hoe hulle met fyn muskietnet visvang. Hulle vat 'n lyn met in vir so Km met 'n elle lang tou en roei dan terug land toe wat die tou dan deur 24 mense ingetrek word. Hulle vat seker 2 ure om die tou in te trek. Soos die net naderkom raak die strand al hoe meer crowded. Een van die clowns sê dat ons moet betaal vir 'n foto. Ek vertel hom dat ons boere is en dat hy maar sy truuks op die oorsese toeriste kan probeer. Stupid boy.

Na 2 ure kom die net aan land en dit wemel van kleurvolle vissies. Die arme goed is eintlik te mooi om proteïne te word vir 'n honger land. Die sowat asblik vol vissies bring net R300-400 in vir die 24 vissermanne en die middelman maak die geld as hy die vissies na Lilongwe toe neem.

Laatmiddag stap ons verby 'n Indiër miljoenêr se woning waar die jong seuns in die water speel met hulle jetskis. Die laning is gelyn met wit en rooi rose. Jy kan sien dat daar groot geld is. So n huisie langs die see. Maar die huisie kan ook in Boardwalk Manor gestaan het.

By die lodge is dit amper skemer en die Rumba musiek laat die toonbank bewe waar ek my koeldrank drink.

Thursday, 20 March 2014

20 Maart

Maandag oggend verwag ons vir Donald in Lilongwe want hy sou kwansuis deur die nag ry want hy het sy assuransie laat gaan en is bang vir 'n boete. Ek sit my foon af om my battery te spaar en kontak hom eers 7 uur om te vra waar ons hom gaan ontmoet.' I am still in Mzimba'

Hulle het die bult op gery en toe wil die hilux nie die bult uit nie. Hulle stop en hak die trailer af. Die bakkie se remme faal en hardloop in die trailer met klip en breek die hele agterste klap. Hulle verseker my dat hulle nog die Maandag die bakkie gaan reg hê en dat ek asb net R500 moet stuur vir die pressure plate en release bearing. Ek stuur geld en hulle laat weet dat alles goed gaan en defnitief moreoggend in Lilongwe gaan wees. Nou ja ons koop die tyd uit en sit gas in die aircon en kry die dromme. More kan ons die papiere kry en dan huiswaarts.

Dinsdagoggend: Donald where are you. ' I am still in Mzimba'

Hulle kon weer nie teen die bult uit. "They sold us a Chinese scrap and tomorrow we are going to ask our money back and then get the proper parts"  OK but please keep me posted. Woensdagoggend: Donald where are you? ' I am still in Mzimba' Why? "When we opened the engine some of the spacers were lying on the oil pan, I am going to Mzuzu to buy new spacers tomorrow". Also get your insurance. Uit Mzuzu bel hy my en sê dat die assuransie nie in Lilongwe betaal kan word nie en dat ek moet geld stuur. Ek sê twak man en bel die hoofkantoor. Geen probleem meneer. Jy kan dit hier betaal en dan reik ons dit in Mzuzu uit. 5 minute voor toemaak tyd betaal ons en kry hy sy assuransie. OK fix it tonight and see you tomorrow. Donderdag oggend antwoord by nie sy foon nie en ek bel die drywer. Where are you? ' We are still in Mzimba'

Nou sien ek hoe ons Kersfees nog hier gaan wees met die woorde. ' I am still in Mzimba'

Ons sê vir Chris hy moet klaar stort want ons ry nou Mzimba toe. 15 minute later beur ons uit na die noorde deur oggendverkeer. Op die oop pad druk ek die Colt en doen soms 140 km per uur en bietjie meer. Ek is kwaad want die oponthoud was nie in my beplanning nie. 3 ure later stop ons voor die warehouse en Donald se oë rek so groot soos pierings. Ek gaan gal af oor die toestand van die voertuig en stoor. Langs die enjin wat alweer in stukkies is sit 'n vreemde man en ek verneem wie hy is.' This is the welder who is going to weld this crankshaft.' Ek kom omtrent iets oor. This is a precision part that runs at 5000 revolutions per minute and you want to weld it. Vertel ek hulle.

Ek en oupa storm daar uit en gaan dorp toe waar ons transport gaan soek. Dié ou vra te veel. Daai een se trok lyk glad nie goed nie. Uiteindelik kry ons 'n ou af van 250000 Kwacha tot by 125000. Hy lyk nie heeltemal gelukkig met die prys nie maar ek is ook nie gelukkig nie. 20 minute later stop ons by die Warehouse en laai die klip en Oupa sê vir Donald om sy goed te pak want ons ry nou. Hy word amper in geforseer in die lorrie deur Oupa wat nou maar net eenmaal genoeg gehad het van die man se streke.

Ek kommunikeer met 'n ou in SA wat Maandag ons klip kan laai. Hy stuur 'n trok Malawi toe en ek kan hom in Suid Afrika betaal.

Net na donker laai ons die klip af in Lilongwe en soek slaapplek. Ons lodge wat ons R100 per nag betaal is vol en hulle verwys ons na hulle susters plek wat groot ruim kamers het. Ons kan nie ons oë glo nie want die prys is nogal goed. Die krag is oral af en ons dra ons tasse kamer toe en sien uit na 'n goeie nag se slaap na 'n stresvolle dag. Na 30 minute kom die krag eweskielik aan en met dit die musiek. Omtrent 5 sound systems kompeteer met mekaar en die grond bewe sommer so van die geraas. Ons slaap nou maar vanaand hier maar more kry ons 'n ander plek.

Tuesday, 18 March 2014

18 Maart

Vandag is freight dag en ons pak die taak aan met gusto. Ons wil so 4 tot 5 kwotasies hê om te vergelyk, dan weet ons wat die prys is en dan kan ons 'n goeie keuse maak. Ons begin met die Eye magazine. So n wies wie boekie van besighede in Malawi. Ons het 17 nommers. Net 4 antwoord hulle fone. Van die 4 kry ons een wat 'n email adres het en wat sê dat ons 'n epos moet stuur. Toe gryp ons die geelbladsye. So 39 oproepe later is ons niks nader aan ons eerste quote nie.

Mule brothers, no answer
Ntjalo Transport, no answer
Kings freight, no answer
OSC Transport, no answer
S & J Discount, no answer
Paulo Transport, no answer
En so aan, en so aan

Uiteindelik kry ek vir Osman wat ons sal kom sien by die Kiboko hotel. Hy vra my hoeveel ek wil betaal. Ek sê hom dat hy die prys moet maak. Hy vra vir 'n pen en papier en kom met 'n prys van $5000 vir die 3 ton. Ek sê vir hom dat hy heeltemal te duur is en hy vra hoeveel ek nou eintlik bereid is om te betaal. Ek vertel hom dat dit nie 'n veiling is nie en dat ek nie in 'n onderhandelings gaan ingaan oor sy prys nie. Hy lyk so verbaas. Ek vertel hom hoe die Mzungu manier werk. Jy gee my 'n prys en ek aanvaar dit of ek reject dit. En ek het nou net jou prys geweier so jy kan maar nou jou ry kry.

David kry vir ons Dokiso se nr. Hy gaan leeg terug SA toe en het plek vir ons klip. Hy kom met 'n belaglike prys van R25000 en dan moet ons nog die grensfooie betaal. Ons bied R6000 aan en wag vir hom om terug te kom na ons toe.

Ek kry John we nr op Gumtree en skryf vir hom 'n epos. Hy kwoteer R19000 en ek kan hom in SA betaal. Alle kostes ingesluit. Ons sal seker vir hom gaan as ons nie 'n ander prys kry nie.

Chris kla al die hele week van tandpyn, sy verstandtand druk teen die ander tand en hy het 'n abses. Ons kry 'n swart tandarts wat geen pasiënte het wat wag. Nou bespiegel ons, is hy dalk 'n slegte dokter of is die Malawiers se tande in so goeie toestand dat hulle nie 'n tandarts nodig het nie. Dit moet die laaste wees want hulle eet nie soetgoed en ons het nêrens stopsels gesien nie. Die besluit was maklik. Trek die tand! En net R160 later.

Donald hulle het nog nie vertrek nie. Hopelik is die bakkie nou-nou reg want ons is moeg vir wag in Lilongwe.

Monday, 17 March 2014

15 Maart

Vroegoggend kom ons by die Warehouse aan om te sien of hulle die Hilux gaan regkry vir ons trip vandag. Die enjin is in stukke en ons weet nie of ons gaan vertrek nie. Ons wil nie in die aand ry nie. Teen 12 uur is die enjin weer aanmekaar en word hy gestart. Hy klink pragtig. Oupa sê dat ons nie ry voordat die groen bakkie start nie.

Ons pak ons klip en begin neus huis toe druk. Ons is opgewonde want die vrag is waardevol en ons kan nie wag om die klip te bemark nie.

So 100 km van lilongwe af hoor ons 'n klapgeluid en so tik tik. Ek ry al hoe stadiger en stop by die eerste nedersetting. Ek stap om die motor en kan my eie oë nie glo nie. Drie van die boute op die linker agterwiel is morsaf en die ander 3 is net daar op genade. Die hele wiel is los. Samson die mechanic het nie die nuts vasgedraai nadat hy aan die remme gewerk het nie. Nog 500 meter of 'n kilometer verder en ons het groot skade gehad. Ons probeer die oorblywende moere los draai maar hulle draai net in die rondte. Dit vat Chris meer so 'n uur om die moere los te kry met 'n groot gesukkel. Die laaste moer moes ons afbreek.

Soos die Here dit bestem kry ons op 'n Sondag presies 5 wielboute wat pas. Eintlik pas net 2 maar Chris forseer die ander 4 in die flange met geweld en ons kan na een en 'n half ure weer die pad vat met een moer in elke wiel minder. Oupa vertel die grap van die ou wat ook sy wiel moere langs die malhuis se draad verloor het en toe die malle vir hom sê om een van elke wiel af te haal het hy vir die ou gevra of hy dan nie mal is nie. Die antwoord : "ek is mal maar ek is nie stupid nie"

Nou wag ons vir Donald wat in die nag wil ry omdat die trailer nie geregistreer is nie. Ek sit my foon af in die nag dat hy vinniger kan charge en wil nie vir Donald te vroeg pla nie. 7 uur bel ek hom en vra hom waar ons hom moet ontmoet. "Sorry sir I had a breakdown" Nou is ek nie verbaas nie. 'Expect the worst and then be pleasantly surprised if it all goes well'   Dit is die storie wat 'n ou hier moet hê om sane te bly. 

What exactly happened, vra ek hom. Hy sê dat hulle die bult op gery het en toe wou die ratte nie meer nie, toe hulle die remme trap toe gee dit ook in ens, ens. Toe moes ek geld stuur vir die thrust bearing en pressure plate. Hulle is besig om hom reg te maak en dan kom hulle vanaand.

In Lilongwe soek ons dromme en word na Area38 gestuur. Geran dit klink soos die fliek met die Aliens in Kaapstad nè. By een van die dosyne roadblocks beboet hulle ons wraggies omdat Chris in die agterste sitplek nie sy seatbelt aan het nie. Ons kry ook 'n waarskuwing oor wit reflectors wat afgeval het voor. Dit is nou rassediskriminasie teen die Muzungu. Het jy n brandblusser, ja. Het jy 2 driehoeke, ja. Het jy 'n veiligheids baadjie, ja. Het jy 'n temporary importation permit, ja. Het jy assuransie,  ja. "Can I see your drivers license. Ok now go pay your fine, 2000 Kwacha"

Ons ry êrens deur 'n rioolsloot en nou stink ons bakkie soos 'n toilet.

Saturday, 15 March 2014

14 Maart

Dit reën die hele dag en ons vrees weer vir die moddergat. Die slag is ons 3 in die kar. Iemand kom van voor en vertel ons dat daar 'n bakkie vassit in die moddergat. Daar is geen ander pad daar verby nie en ons moet daar verby.

Ons stop onder die bult en stap na die voertuig wat vassit. Die man het opgegee, as hy terug stoot, dan is hy teen die wal in 'n sloot en net meer in die moeilikheid en hy kan nie vorentoe want die modder is te glad. Hy staan nou al dwars oor die pad. Saam met my is ons 5 man. Ek offer on te help. Hy gee my sy sleutels. Ek kry my manne om die bakkie se gat te swaai terwyl ek hom spin. Na 'n paar minute is ek parallel met die pad. Ek reverse die bakkie tot onder die bult en draf hom gly-gly deur die gat. Almal cheer en klap hande. Ek parkeer die bakkie en trek sy handrem op een stap terug na die moddergat. Die volgende oomblik begin die bakkie my agtervolg. Sy handrem werk nie! My hart gaan staan in my keel, ek hardloop na die bakkie en probeer hom stop, hy sleep my saam op die modder en stop uiteindelik. Donald hardloop nader en sit 'n klip agter die wiel. Scary stuff. Ek bewe van angs en adrenalien.

Die ou man wie se bakkie dit is beweer dat ek 'n antwoord op gebed is.

Nou is dit my beurt, ek ken die lyn en lengte soos die krieket spelers sal sê en jaag al glyende deur die moddergat. Samson volg met die hilux en 500 kg klip. Ek wens dat ek hom afgeneem het. Dit was omtrent 'n gesig. Die trailer bokspring omtrent 'n meter in die lug.

Ons kom by die myn met die groot kristalle en sien dat die kristal 'n goeie graad is. Die manne kry 158 900 Kwacha vir die kristal. Hulle smile all die pad bank toe. Dit klink na baie geld nè? Dit is eintlik net R4000.

Hulle start die Hilux nadat die groot kristal gelaai is en ons hoor so lelike knock op sy enjin. By die stoor aangekom ruk Sam en sy assistent die enjin uit en gaan vroeg na Mzuzu met die crankshaft want ons is op pad huis toe en die Hilux moet ons kristalle lilongwe toe neem en Chris se bore in Lilongwe laai. Die ingenieurs werke sê dat hy nie gefix kan word nie. Donald bel my dat hulle 'n 2de handse crankshaft wil koop. Dan moet hulle hom ingeneurswerke toe neem om te laat sny en dan ander bearings insit. Ek besluit om 'n nuwe crankshaft te koop want ek moet ook die voertuig gebruik as ek hier is en ek wil nie sukkel nie. Hulle bel my vanmiddag om te sê dat hulle als gekry het en dat die voertuig môre reg gaan wees vir die lang trip na Lilongwe. Dit is Afrika die en hier gebeur als so op hulle manier.

By die stoor begin ons met 'n massiewe taak. Die klip wat ons moet laai is te veel en ons moet sny. Ons begin die hele 4 ton wat ons wil afstuur te sorteer. Oupa sit by die skaal en weeg en ons gooi sakke op die stoep uit en haal al die industriële graad uit wat moet Sjina toe.

Chris vroetel met die skaal en kry die skaal om te zero. Ons weeg een van die 50 kg sakke en sien dat ons sak 52.9 kg weeg. Ons bereken weer die gewig van alles in die stoor en kry 'n nuwe gewig van 14049 kg. Nou kort ons net 9 ton. Die einde is in sig.

Ek koop 1.6 ton se mielies en 2 groot sakke stink gedroogde vissies en dit beteken dat daar nou genoeg kos vir al die myne is vir die volgende 4 weke. Nou hoef Chris nie bekommerd te wees oor die kos nie.

Ons boek in by Mame lodge en neem vir die eerste keer in 28 dae 'n warm stort en kan nie wag om Suid Afrika toe te kom nie. My sitplek as drywer is 'n hele 4 kg ligter, werk daai een vir julle self uit.

More rapporteer ek op die pad.

Thursday, 13 March 2014

10 tot 13 Maart

Ons kan nie wag om ons neus suidwaarts te druk nie. Om vir 4 weke te kamp is lekker maar as jou vrou jou vertel van die warm bad wat sy gevat het dan wil 'n man net huistoe.

Die brandmaer hond het nou net sy bene kom soek wat Oupa vir hom rondgooi rondom die tent. Maar bewaar sy siel as die wag hom sien, dan peper by hom met klippe.

Vandag was een van ons beter dae.

Ons dag het begin met tee en die laaste beskuit want die koffie is klaar en toe is ons al glyende op die pad na die Nkhanga myn. Mike het 'n monster grote kristal oopgemaak. Ons is net so effens opgewonde. Ek stap na die put en skreeu vir Chris. Gaan haal my Pa. Hy moet dit sien. Ek neem die een foto na die ander en ons kan dit nie glo nie. Die myners reken dat die kristal 1000 kg weeg. Met die wegry van die myn sê Chris dat ons so bevoorreg is om so iets te kan beleef.

Ons moet Chris al die myne wys want hy moet vlg week begin om die besigheid te bestuur terwyl ek die beter grade aquamarine vanaf Suid Afrika gaan bemark.

Ons ry na Manduwa se myn. Hier raak Chris so opgewonde want orals steek kristalle se koppe uit wat in kwarts vasgevang is en hy het die expertise om die kristalle te bevry. Hy het 2 mobile mining units wat 100% geskik is om die job te doen. Hy het net boorpunte nodig.

By Agnes se myn koop ons 70kg se mooi klip.

By Mahowe se myn kry ons geen myners en gaan toe na sy 2de myn en kom ook daar voor dooie mans deur. Ons ry na sy huis en kry hom daar. Ek vra hom. Wat nou? Hy sê dat daar 2 groepe myners is by die een myn. Ek vertel hom dat hy lieg want ons kom nou net van sy myn af. Hy word skoon asvaal. Die vorige week het myners by sy een myn net R7 per persoon gekry vir patetiese produksie en ek dink hulle het almal gedros.

By die kantoor vind ons uit dat hulle ons drywers in die dorp gevang het sonder hul bestuurslisensies aan hulle en 'n stywe boete van so R350 is die drywer aangesê. Donald draai met die saak tot by die hoof van die verkeersdepartement en kry die boete af na R120. Ek raas maar moet maar betaal want ons het die bakkie nodig om te gaan klip laai.

Aandete was Ricemate met hoender. Alte lekker.

Sunday, 9 March 2014

8 en 9 Maart

Mahowe is 'n onderwyser wat 3 myne besit. Hy is 'n laerskool onderwyser. Hy vat omtrent 3 minute om sy naam te skryf. Maar hy is 'n doodgoeie ou. Ek stuur die hele week vir hom Sms' s want hy rapporteer nie. "can we have a meeting?"  Teen Saterdag kry ons die meeting.

Hy maak n afspraak vir 2 uur. Teen 2 uur is hy nie by die kantoor nie. Ons wag 15 minute en ry toe die 6 km uit na sy huis toe oor slegte paaie. Daar gekom sê sy vrou, "wat soek julle hier? My man is dorp toe."  Wat n misverstand! Ons ry terug dorp toe en sit en wag. Teen half vier bel hy my en sê dat hy naby sy huis is en nou op pad dorp toe is. Ek gee die foon voor Samson en vra hom om vir die man te sê om reguit na sy huis te gaan ons kry hom daar.

Ons jaag na sy huis want dit is alreeds laat en ons kamp is 45 km op slegte grondpaaie hiervandaan en ons wil nie na donker op die paaie wees nie. Ons kom by sy huis aan en Oupa sê dat hy nie uit die kar gaan klim nie want die man het ons al klaar te veel rondgeneuk. Ek vra vir Oupa om asb nie met hom te raas nie want dit is 'n nuwe verskaffer en ons wil hom nie vervreem nie.

Hy is nie by sy huis nie. Ek kry hom op sy foon in die hande en hy sê dat hy amper by die huis is. Net nog 5 minute. So 15 minute later kom hy daar aan. Ek hou by my belofte om nie kwaad te word nie en vra hom waarheen nou. Hy sê "we have to visit the mines"

Die eerste myn is 8 km weg oor haglike paaie. Uiteindelik sê hy "stop here!", ons vra "how far too the mine?", hy reken dit is net 100 meter. So 300 meter verder stuur ek vir Oupa terug kar toe en nog so 150 meter verder kom ek by die myn aan. By die myn kry ons so klein hopie klippe. Gelukkig het hulle goeie kleur. Hy sê dat hulle kamp opgeslaan het en by 'n begrafnis was en daarom is die produksie so laag. Ek aanvaar dit en betaal hulle net vir die kg gelewer. Elke ou kry net R39 vir die week se werk. Hulle lyk nie tevrede, maar ek is ook nie tevrede want elke myn moet 250kg 'n week lewer.

By myn 2 en 3 herhaal die storie homself en ek is kwaad. My voedingskema vir sy 3 myne stoot die koste op na amper $2 per kg vir die bietjie klip wat hy gelewer het, maar ek het 'n klousule in sy kontrak wat sê dat as hy nie daagliks die gewigte deurgee nie dat hy nie die vlg week weer kos sal kry nie. So geen voeding vir sy myne meer nie totdat hy leer om te rapporteer. Ek raas met hom en sy myners en hulle lag openlik vir my in my gesig. Oupa sê dat die nasie geen benul het van tyd of afstand nie en ek beaam.

As hy rapporteer dat daar net 6 kg gemyn is by een myn kan ek mos dadelik weet dat iets nie pluis is by daai myn nie en dan onmiddellik stappe neem om dit reg te stel. By die Pastoor se myn het hy Saterdag oggend meer klip gemyn as Mahowe se 3 myne saam vir die hele week.

Ons kom eers 7.30 by ons kamp (stikdonker) aan op 'n Saterdag aand wanneer die res van Suid Afrika lekker voor julle TV' s sit en rugby kyk. As Donna ons nie op hoogte hou met die scores nie sal ons ook gladnie weet wat in die wêreld aangaan. Aandete is Chili sardyne op sagte witbrood. Alte lekker. Maar ons sardyne is nou op. Oupa is baie lief vir sy sardyne.

Sondag rus ons by die kamp. 5.30 op met die wag se stiptelikke "your water is heat" en koffie in die tent, oats pap vir Brekfis en 11 uur tee. Teen 12 uur kom daar 'n dronk myner aan by die kamp en iets snap in my en ek verjaag hom met 'n stok. Die 4de slag slaan ek hom agter oor die blaaie en Oupa lag te lekker. Moenie die Mzungu kom pla as jy gesuip is nie. Punt!

Miskien kyk ek te veel CSI NY. Dankie Thea!  Dit is al wat ons oor het om te kyk en die res van die middag kyk ons so 3 van die episodes en speel seduko. Anja, dan vul Oupa een in en dan ek, en ons check mekaar so op. Wat 'n wonderlike tyd saam. Ek sal die tyd saam vir altyd bewaar in my hart.

Friday, 7 March 2014

7 Maart

My verjaarsdag. 05.22. Ons ou nagwag by ons kamp maak ons wakker met die woorde. 'morning sir your water is heat'  Dit is nou ons oggend badwater wat hy in ons klein sinkbadjie verhit het. Omtrent so 8 liter water. Die tyd van die oggend is dit nog lekker koel hier in Malawi. Ons is op die hoogste kop in die omgewing. As jy bad kan jy so 3 dae ver sien. Jy weet nie altyd wie kyk vir jou nie. Maar dis mos die lekker van kamp.

Ek stop by die polisie om te rapporteer dat ons maand se derde party assuransie gaan verval en te vra waar kan ons weer assuransie koop. "Sir you have to go Mzuzu 120 km away", nou wie wil op sy verjaarsdag so vêr ry en dit is al klaar amper 12 uur die middag. "just send someone with your vehicle papers in a taxi". So gedoen want ek en Oupa het ander planne vir die middag.

Ons vat die slegte pad na Luwawa Forrest lodge. Die lodge is so 12 km van die pad af in die aangeplante plantasies. Dit lyk soos Oos Transvaal. Te pragtig. Ons kom so 2 uur daar aan en drink iets op die stoep. So met die instap sien ons die suikerbekkies. Orals is voëltjies en ontdek voëltjie hemel. Net daar waar ons sit identifiseer ons so 12 voëls met 2 lifers. 'n Eastern double collored sunbird en n geelpens suikerbekkie.

Die lodge is so versameling van koloniale goeters. Alles is run down. Die stoele se kussings is stukkend en niks word regtig onderhou nie. Tipies Malawi. Amper so Karen Blixem tipe storie "I had a farm in Africa", 'n stuk roos kwarts hier en n bamboes chime daar. Kry julle die prentjie?

Aandete was pampoen sop, maar dit is nie naby so lekker soos Donna sê butternut sop nie. Die sop was effens laf en smaakloos. Ons eet slaai met rocket en heuning, te lekker en toe steak. Oupa sê hy is nie seker watse gedeelte van die bees die vleis vandaan gekom het nie maar dit kan dalk naby die rump wees. Die steak is well done. Hulle ken nie van medium to rare hier nie.

Hulle rook ons op die ete se prys R461.00. Ouch. Ons ry murmurerende daar weg en regverdig die koste teenoor die 2 lifers. Die ou vra $18 vir 'n sop en voorgereg. Francois jy kan bietjie tips kry by die ouens oor pricing. Na die tyd sê ons dat ons seker vooraf moes gevra het. Such is life.

Dit was 'n lekker dag maar my gemoedstoestand was swaar want Annalie is siek in Sjina en gaan Hong Kong toe met die trein vir mediese hulp. Gelukkig het ons vriende in Hong Kong wat haar help. Sy is OK

Thursday, 6 March 2014

5 en 6 Maart

Ons vat die pad Zambië toe met net die basics in die kar. Ons beplan om een of twee nagte daar oor te slaap. Ons ry saam met Ray want hy sê dat hy al die myne ken in daai geweste. Maar ons moet eers Noord om 'n ander myn te besoek.

By Embangweni is daar 'n beesveiling en orals word sulke maer klein tipe bees aangejaag. Die een ou het die ossie met 'n riem aan die agterpoot en stoei om hom uit die pad uit te kry sodat ons kan verby.

By Endingweni kry ons hordes mense wat al 5 km flink aanstap dorp toe. Al te kleurvol. Dit is markdag. Fiets bande, goedkoop radios, potte, doeke, vis, charcoal en nog wat word oral langs die pad uitgestal en dit is al te vrolik. Maar ons ry net deur en geniet die kleurvolle spul so uit die motor. Oupa probeer die geroesemoes afneem, maar 'n mens kan dit eintlik net ervaar. So 10 km verder vra ons rigting. Op en af met dieselfde pad kom ons uiteindelik by dieselfde myn wat ek in Oktober laas jaar by was. Maar die slag is die myn onder 2 meter diep water. Daar is skynbaar juweliersgehalte stene in die gat maar die saak moet wag tot na die reënseisoen voordat dit weer gemyn gaan word.

Ons kom so 12 uur by die grenspos aan. Dit is omtrent net 'n stok oor die pad. Al die doeane personeel sit onder 'n boom. Ons vul die register in en binne 5 minute is ons op pad na Zambië.

Ray loop net oor die grens want hy het nie 'n paspoort nie.' Nou Ray hoe gaan ons die klip oor die grens kry.' "That is not a problem, once we are there we just past the border anywhere with the stones." OK!
Maar ons neem 'n wyse besluit om dit eerder nie te probeer nie want die Afrika tronke het nie sulke lekker beddens nie. Aan die Zambiese kant vertel ons die man dat ons eintlik net ons paspoorte wil hernu met 'n nuwe stempel. Hy sê dat dit geen probleem is en stap die 100m saam met ons terug en so R180 later is ons weer wettig terug in Malawi.

Terug by die kar vra 'n welgeklede dame ons vir 'n lift. Waarheen gaan jy? Na Embangweni. Dit is presies waar ons kamp. Sy prys God, want ons is 'n antwoord op gebed.

Terug by die myn kry ons die myners in die dorp en nie by die myn nie. Ray is woedend. Hulle gebruik die oomblik wat ons weg is om rond te loop.

Laasnag waai die wind ons omtrent weg. As jy wakker word waai die wind nog een strook deur. Gelukkig is die tent goed geanker en ons oorleef die wind.

Vanoggend durf ons weer die bobbejaan pad na Agnes se myn. Pa sê dat net 'n dronk bobbejaan op so 'n pad hoort. Die pad lyk of hy nooit gery word nie en vat ons deur die hart van die Perekezi forrest. Inheemse woude orals om jou. Te pragtig. By Agnes se myn spandeer ons seker 2 ure om na haar specimens te kyk. Ek koop so 50 kristalle met water bubbles in en kan nie wag om hulle na my winkel te vat nie.

Uiteindelik vat ons die kortpad terug dorp toe en ja, daar sit ons weer vas. Gelukkig is ons naby 'n myn en 2 manne met 'n graaf grou ons uit. By die stoor weeg ons en sorteer ons al die goed wat ons moet terugneem SA toe. Ons merk dat die een band pap lyk en besluit om hom te laat bekyk. Langs die pad lê 'n hoop bande en dit merk ook toe die plek waar hulle jou band in 'n japtrap sal regmaak. Terwyl hulle die band regmaak kyk ek hoe die een man vars vis van die meer verkoop. Ons koop 'n medium grootte vis en by die kamp maak ons hom in die Cobb gaar. Die vis was bitter deur en deur. Francois wat het ek fout gemaak?

Monday, 3 March 2014

4 Maart

Nou hoekom so stil? Net omdat ons dieselfde dinge doen wat ons tot op die punt gedoen het en ek oor omtrent als al geskryf het.

Langs ons tent kom 2 groot wit mushrooms op en ek pluk hulle om later die dag te braai. Ons het nie botter en knoffel nie maar wel peri-peri sous. My hand was bietjie swaar. Hulle het behoorlik gebrand.

Terwyl ons die warm mushrooms eet kom hier 'n streep kommando miere onder die tent uit verby ons voete. Ek gryp die Doom en gee so spuit in die kolom. Hulle begin sis en is kwaad. Toe hardloop hulle die hele wêreld vol ons besluit om eerder pad te gee. Na so halfuur is hulle weer daar maar elkeen met 'n eiertjie in die mond van onder ons tent se grondseil. Ons het gesê dat Afrika nie vir Sussies is nie, nè.

Gister was daar begrafnis. Groot begrafnis. Die myn waar ons bly se Chief se seun is dood. Daar word gesê: "As julle gaan myn, gaan ons al julle tools konfiskeer"

Ons gaan toe maar dorp toe om die stoor uit te sorteer. Ons koop 'n 2de hande kabel in die besige mark en konnekteer hom aan die skaal. Ek swets want die skaal wil nie aan nie. Die enigste verduideliking is dat die koord 2de hands verkoop word omdat hy stukkend is. Ek storm uit die stoor om te sien dat Samson nou net my agterste remme afgehaal het om hulle te diens. Wel dan is dit maar voetslaan die 500 meter dorp toe. Die ding met die Malawiers is dat hulle almal graag groet en die kindertjies skreeu dan Mazungu (witman) so ver ek loop. Gelukkig het die eerste winkel als wat ons nodig het insluitende die regte koord.

Ons begin om die sakke elk in 50 kg te verpak en in rye te pak. N moerawiese werk. So teen 5 uur is almal pap. Ek inkluis. Ek het self so 5 ton se sakke hanteer. Ons tel die rye en maal dit met 50 en kry net 8750 kg. My boeke sê daar moet 10100 kg wees. Maar daar is nog klip wat gewas moet word maar nie 'n volle ton nie. Wat kan ek sê, ver van jou goed, naby jou skade.

In die een hoek lê die lae graad en in die ander hoek die aquamarine wat ek as beading grade wil verkoop. Daardie hopie is al 2.5 ton. Ek bereken dat ek graag $5 per kg wil hê en dit sê my dat daar oor die R100 000 se waarde daar lê. Die vraag is nou, 'wat vat ons saam en wat bly' Want ek sal die klip moet verkoop om die nodige geld te kry om die container vol te kry en weg te kry.

Die oplossing is om als met een batch af te stuur SA toe met 'n trok so oor 2 weke van nou af.

Ons kry laatmiddag 'n oproep van Mike dat hulle nog 'n groot kristal gekry het. Ons gaan vanoggend kyk en kan nie wag om dit te sien nie......... To be continued.....

Friday, 28 February 2014

27 en 28 Februarie

Ons laai vir Ray en Pastoor by Embangweni af. Hulle jaag ander klip wat by 'n ander myn in die distrik is.

Ons besluit om die reguit pad Mzimba toe te ry. So halfpad na Mzimba kom ons 'n rivier tee. Gaan ons omdraai of deurry. 'n Man met 'n motorfiets ry gemaklik deur die rivier. Ek stap af en besluit dat as hy dit kan doen kan ons ook. Ek stormloop die rivier en loop my rieme vas teen die oorkantste wal wat 'n modderpoel het. Ons kom nie teen die wal uit nie en besluit om terug te gaan want die rivier is soliede sand. Maar ons kom nie uit die modder tot op die sand nie. Ek grou al hoe dieper in totdat ek later op my aste in die sand lê. Ek probeer ons uitgrou met die hand. Ek is naderhand in my onderbroek. Ek het nogal n crowd gehad wat gegiggel het in die agtergrond maar kry nie die bakkie van die sand af nie.

Ek moet so 500 meter stap voordat ek selfoonopvangs kry en bel vir Donald. So 3 ure later kom hy met die hilux aan. Ons wil net terug kamp toe en probeer die Colt op die sand kry en oor die rivier waar ons vandaan kom maar hy sit!

Ons jack toe die Colt op en sit planke onder sy wiele. Ons haak die hilux en sleep die bakkie uit teen die wal. Die hilux se starter werk nie en gelukkig kry ons die Colt uit sonder dat die hilux vrek.

Net so voor donker kom ons in Mzimba aan. Ek en Pa belowe onsself dat ons maar die veilige ompaaie gaan ry want ons het nou genoeg keer vasgesit vir een trip.

Nou wil ons nie weer 38 km terug kamp toe nie want ons het ongedane sake in die dorp en ons moet dan more weer inry. Ons kry 'n Guesthouse in die dorp wat kamers beskikbaar het. So 'n paar ure later weet ons hoekom die guesthouse vir ons plek het en die ander almal vol was. Want hulle is een van daai raserige plekke. Teen 02.04 sit hulle die klanksisteem af en raak dit die eerste keer stil. Oupa sê dat hy heerlik geslaap het. Ek kyk na hom met my rooi oë en kan dit nie glo nie. Brekfis was 'n disaster. So snaakse stukkie vleis wat veronderstel is om 'n worsie te wees en 'n koue omelet en toast wat swem in die olie.

By die kantoor wag verskeie mense vir betaling, payday want die Mazungu is hier. Kanyinga met sy besondere mooi klippe en die mielie verkoper met omtrent 'n ton se mielies. Ek lieg nie.

My bakkie se remme raas en sy liggie is aan. Samson haal die remme uit en gaan met hulle dorp toe. Nee jammer ons kry nie jou tipe remme in die dorpie, maar ons ken iemand wat hulle kan opbou. Na so 2 ure staan die bakkie met amper nuwe brieke en net so R400 later.  Ek wonder wat hulle my in SA sou gekos het.
Ek en Pa sorteer die klip uit wat saam SA toe kom. Die vrag is al so 650 kg. Net so voor ons klaarmaak met ons groot taak hoor ons dat een van ons myne die moeder van al die kristalle uitgehaal het. Wel sien is glo. Ons pak die bakkie en jaag myn toe. Nou moet ek julle sê dat 'n myner net so erg as 'n visserman is, die vis is mos altyd groter as wat hy is. Wel die keer het hulle nie oordryf nie. 509 kg. I saw it with my own eyes. Die kristal was in stukke soos hulle hom uitgehaal het.

Ons kom so 7 uur by die kamp en kry 'n sopnat kamp. Die water staan damme op die grondseil. Ons fone is pap en ek ruk die Inverter uit om die foon te charge. Ons nightguard braai n paar mielies en ons maak curry mince mate.

Ray kom by die kamp aan en vertel van hulle sukses. Hy en die Pastoor gaan toe na die afgeleë myn om inspeksie te doen of die myn weer geopen kan word. Ray self het voorheen op die myn gewerk en sê vir die Pastoor dat daar waar hulle nou staan voorheen klip gepak was. Hulle begin daar in die grond rondkrap en 5 ure later het hulle tussen 700 tot 800 kg se klip. More gaan ons laai.

Dit reën nie nou nie en ons is so dankbaar vir die tussenpose.

Tuesday, 25 February 2014

25 en 26 Februarie

Ek dink nie een van julle wil in my skoene wees nie. Ons is nat, deurnat. Ek hang my matras onder die afdak op omdat ek wil hê hy moet droog word. Die gewig van die matras trek die afdak so effens af en maak 'n perfekte plekkie vir die water om in te sypel.

Ek en Pa kom eers na 7 by die tent in gietende reën om te sien hoe die water uit my matras drup.

Gister moes ek myself afvra of ek die spiere het om die plan van my in werking te sit. Beide finansieel en emosioneel. As jy weet waarvoor jy mik dan sal jy net moet uithaal en wys. Om al die myne toe te rus is oor die R80000. Dan moet 174 myners gevoer word elke dag. En die logistiek daaraan verbonde. My nuwe man Chris sê hy is reg vir die taak.

Ons hoor gister van klip wat dalk in Zambië net oor die grens lê. Die storie loop so. Ons sponsor vir Gausi wie se myn al oor die 5 ton gelewer het. Hy sê vir iemand anders dat hy voorheen deur 'n Zambier gesponsor was en die wou hom weer sponsor en hy het die man toe geweier. Die man vra hom toe hoekom hy nie vir hom wil grou nie. Hy sê toe dat hy nou lae graad vir witmense grou. Die man is onmiddellik geïnteresseerd omdat hy weet van hope lae graad klip wat net oor die grens in Zambië lê. Hyself sponsor baie mense wat orals grou vir beter graad aquamarine en hy het nog nooit 'n mark gehad vir al sy lae graad nie.

Nou soek ons die "big man"  Zambier se myn in Malawi wat hy sponsor. Ons ry wes so 30 km en die paaie raak al hoe kleiner, naderhand kan ons nie verder en ek los pa in die bakkie en stap bergop en bergaf vir 1.3 km. Sas die Keen leersandale is toe waterdig wat ons in Durban gekoop het.

Hier tref ons 'n myn aan met sulke maer en vuil myners wat grou. Een van hulle sê dat hy weet waar die Zambier se groot myn is in Zambië en dat hy ons daarheen kan vat. Maar dat die Zambier ook 'n vrou in ons dorp Mzimba het en dat ons dalk sy nr by haar kan kry en hom eers moet bel. Dit is nou ons missie vandag.

Ons hoor van 'n laerskool onderwyser wat bevriend is met die Zambier en kyk of ons nie die Zambier se nr by hom kan kry nie. By die skool sit ons nog 'n slag vas en na 10 minute is ons gelukkig uit. By die onderwyser se huis kry ons weer 'n deurbraak. Hy het ongelukkig nie die man se nr nie maar hyself besit 3 myne en met hulp van ons af sal hy al 3 die myne oopmaak en kan ons dit sommer more begin myn. Ons verduidelik hom wat ons nuwe myn plan is en omdat hy intelligent is snap hy dit dadelik. Donald soek geld vir die venture en ek sê, nee. Trek 'n geskrewe budget op en ek en Pa sal die tools gaan koop en dit persoonlik aflaai. Gee jy Donald die geld sal dit dalk vir ander uitgawes aangewend word.

Die 26 ste besoek ons die Nkhanga myn. Ons kry 8 myners met so 6 sakke vol klip. Ek dring daarop aan dat die klip gewas word. Die klip is baie vuil, sommer so bruin van die modder. Hulle sê daar is 'n rivier net so 500 meter weg. Ons laai die sakke en gaan af rivier toe. En hier beleef ek een van daai oomblikke wat net so perfek voel. Mooi bome, kabbelende water en dan kom die mooi klip uit die bruin modder. Ons spring in en begin klas. Na so uur het ons 78 kg se beading grade klip. Party stukke is amper faseteer gehalte. Wow.

Ek betaal hulle en elkeen verdien dubbel wat hulle sou verdien het as hulle vir 'n salaris sou gewerk het. En ek weet net daar en dan dat my besigheidsplan gaan werk. Nou is dit net die uitvoering van die plan. Dit lig my gees en ek en Pa kyk 3 episodes van CSI. Dankie Thea.

Monday, 24 February 2014

23 en 24 Februarie

Sondag oggend vroeg kom Ray by die kamp aan met 'n langnek hoenderhaan. Hy rook ons op die prys, maar ons is lus vir hoender.

Ek vra dat hulle hom skoonmaak en hy kom na 'n rukkie hier aan sonder kop maar nog met sy runaways aan. (dit is nou pote vir die wat nie weet. Sy lang scrawny nek steek soos 'n aerial aan die een kant uit. Ons sny sy boudjies af en stop 'n halwe suurlemoen en die 2 drumsticks in die pens. Nou is hy 'n stuffed chicken. Na 1.5 ure sny ons hom tot naby die been en hy lyk asof hy nog moet gaan. Eintlik het die hoenders amper 'n rooi vleis. Ek dink ons het hom te lank ingehad en hy kom maar so droog en seningrig uit. Dit is meer 'n potjie tipe van hoender. Later die middag ruk oupa die karkas uitmekaar en 'n blikkie tamatie en uie relish doen die truuk.

Ons wilde mushrooms word so neffens in olie gebraai en 'n tamatie en Bernard se vars kruie maak 'n uitstekende bydis. Na die tyd besef ek dat die krui lavender was. Wel daar is n nuwe een vir die boeke.

Die res van die Sondag gaan stadig om en ek vat 'n middagslapie en lees lekker boek en doen wasgoed. Net ek en Oupa met geen agenda as om net te rus.

So teen 5uur begin dit reën. En dit sous behoorlik. Ons kan nie eers ons fone charge nie. Ons gaan lê maar in die tent en is al 8 uur aan die slaap. Maar die gedrup in die tent maak ons wakker en die water drup reg op Oupa se kop. Inspeksie buite help nie veel en ons moet noodgedwonge die bed na die middel van die tent skuif. In die oggend kry ons plasse water op die grondseil in die tent.

Maandag oggend en groot verwagting vir wat die week gaan oplewer. So teen 3 uur slaan hulle 'n groot pocket en Ray ontbloot 'n groot kristal wat oor die 100 kg weeg. Ek sal fotos op whatsap laai. Ons produksie vir die dag is 400 kg.

Saturday, 22 February 2014

21 en 22 Februarie

Ons nagwag maak vroegoggend ons badjie water warm en maak seker dat ons wakker word vir ons bad. Ons sit die ekstra stuk sink tussen die 2 tente en bad daar. Anna die R79 solar shower is eintlik net 'n beslommernis en maak 'n mens skaars nat. As Oupa bad gooi ek hom nat met 'n glas sodat hy al die seep kan afwas. Dit is omtrent 'n gesig. My spellchecker het nou net gesê "gedig" , ja mens kan seker 'n gedig skryf daaroor.

Gisteraand gril ek my oor 'n mik oor die massiewe rooi roman spinnekop wat oor my voet hardloop en toe ek in die bed klim kyk ek reg vir een wat net bo my kop sit. Ek wil hom vang en hy spring op die vloer en verdwyn agter die tasse. Nou word dit spinnekop soek. Die volgende oomblik hardloop hy oor my bed en ek spuit die hele tent met Doom. Na 'n ruk sê Pa vir my. Kyk bo jou kop en my wraggies, daar sit hy. Ek spuit hom direk met die Doom en gooi hom uit die tent.

Gister gaan haal ons water by die skooltjie en kry 'n paar mooi foto's van die kindertjies. Te pragtig. Aan sulkes behoort die koninkryk van God.

Ons ry na Donald se groot myn wat so 10 km van ons is en kry daar net 3 werkers. Ons vra hulle om die gems te bring en hulle haal 'n bottel uit met mooi klippies. Ons koop hulle en ek sien weereens hoe jy besteel word as jy nie self op jou myn sit en kyk dat die mense werk nie. Hier sit ons 'n tweede keer vas op dieselfde plek, hoe stupid kan n mens nou wees. Dit vat ons weer 'n uur om die bult uit te kom.

Ons koop 'n paar sakke vol gem aquamaryn en weet dat ons dalk baie meer geld gaan maak met hulle as met die lae graad. Ons beplan nog om so oor 'n week vir 'n week te gaan gem gehalte Aqua te gaan myn en te sien hoe dinge vir my gaan uitwerk in Malawi as ek Chris in beheer sit van die low grade en ek doen die gems.

Op pad om die klip te laai grom die wolke al weer en is die lug sommer so blou in die rigting van ons kamp. Ons is nou op pad dorp toe om ons proviand aan te vul. Ons gee 'n man n lift wat mushrooms verkoop en hy gee ons so 10 vir aandete dit lyk na mushrooms, eiers en braaibroodjie. More is Sondag dan treat ons onsself met 'n village chicken in ons oondjie met Irish potatoes.

Ons eien na 3 dae uiteindelike die weemoedige gefluit van die spookvoël as die spookvoël s'n. En vanoggend maak die Swartkopwieliewaal sy verskeining maar die 2 geroeste voël kykers vat omtrent 'n uur om die bekende voël uit te ken.

Thursday, 20 February 2014

20 Februarie

So net voor sononder kom hier so lang man aan met die van Banda (elke 2de ou hier is 'n Banda) Die man is swaar gewapen. Hy het 'n pyl en boog met 2 pyle en 'n assegaai en 'n kapbyl. Hy is hier om ons op te pas. Oupa gee hom die evangelie van Johannes in Chichewa. Die dankbaarheid straal uit sy gesig.

Aandete was gerookte oesters met kerrie pastaslaai. Alte lekker. Ons kyk Furious Love en sien hoe God die mense bevry en wat ware liefde beteken en dink aan Bernard. Bernard jy sal die dokumentêr net so geniet soos ons dit geniet het. Dankie vir jou skrywe aan Pa.

So teen 7 uur begin dit sag reën en ons vlug binne in die tent in en my lead is nie lank genoeg om verder Movie te kyk nie. Toe gaan ons maar slaap. Die voëlgeluide is tipies. Die Afrikaanse Naguil skree sy Afrika lied. "maak dood die towenaar" (oupa)

As jy roer in die nag sit die wag sy koplamp aan en kug sodat jy weet hy is nog hier. Ons is bevoorreg en glo dat ons met die regte hoeveelheid energie, dit is nou werkers 'n container 'n maand kan volmaak. Vir $4000 kan ek 160 werkers orals laat grou.  En dit is gelykstaande aan die terugbetaling op een excavator by een myn. Ek gaan nou eers kyk wat 160 werkers per maand kan doen.

Ek en Pa dink 'n meestersplan uit oor hoe om so 'n groot besigheid te bedryf. Ek gaan definitief vir Chris se bestuurder nodig hê. Hy ken die omstandighede hier en praat al hulle taal. Hy is ook presies en hard genoeg en sal kostes laag hou.

Ons smeer sunscreen en gaan sit by die myn. 'n Goeie pocket kom uit en ons kry net vandag 225 kg van die een myn. Ons maak nog 2 myne oop vandag en ons dinge lyk al beter. Ons nuwe plan is om 25 myne te mikrobestuur en verwag net 50 kg van elke myn per dag. Een van die nuwe myn se eienaars hoor my verwagting en lag oor my lae teiken. Maar die syfers lieg nie en ek sien weer hoe elke myner glo in sy eie droom en die droom is nie altyd gebou op realisme nie.

Ons kamp is droog na 'n dag se son maar dit drup drup nou al weer met so koel windtjie.

Wednesday, 19 February 2014

19 Februarie

Ons sit nou by die myn. Binne die myners se tent is een jong seun wat kort kort hul want hy het malaria.

Ons koop 'n plat sinkplaat en pa design so sex tafel uit mikstokke en ronde houtjies. Maar die sink blink en nou is ek bly vir die tafeldoek wat my pragtige vroutjie ingepak het.

Dit is nou laatmiddag en die myner seuns se go is behoorlik uit. Hulle gooi so dan en wan 'n graaf grond uit die put.

'n Nuwe koper stel belang in ons klip en vra 'n prys. Ek kwoteer $200 meer want dit is ondankbare, harde werk. Hoe myn jy aquamarine..? een kristal op 'n slag. Ek gaan nie nou ABL se alleen voorsiening kontrak onderteken nie want ek soek 'n beter prys. Dit is te veel van 'n opoffering vir 'n te klein opbrengs. Die nuwe koper vra afslag. Ek sê hom dat daar geen negotiations is nie. As hulle dit regtig wil hê kan hulle my prys betaal.

Dit is pragtig hier in die bos. Oupa is bekommerd oor die tuinjong probleme wat hulle het en ek bel gou vir Donna. Die oproep kos so R17,  kleingeld om net jou wederhelfte se stem te hoor.

Ons kry min terugvoering. Dit is omtrent soos die ou wat gevra is om die boom af te kap met die stomp kant van die byl. Omdat hy nie splinters sien spat nie, gee hy op. Lees iemand die blog???

Tuesday, 18 February 2014

17 en 18 Februarie

Na so stortreëntjie vat ons die pad terug van die Pastoor se myn met voorbehoud in ons gemoed oor die pad na die reën. Daar is so nat kol waar groot trokke net die vorige dag vasgesit het. Diep gate so diep as die bakkie se onderstel wag voor. My eerste aanval op die moddergat is nie geslaagd en pa is bekommerd dat ek die bakkie seergemaak het. Die 2de slag kom ons net net deur. Ek wens iemand het 'n video geneem.

Donald koop 'n groot sak vol van daai klein vissies wat gedroog is. Dit kos so R400 vir die sak. Die stoorkamer het nou so af reuk van vrot vis. Wie van julle wil vir my kom werk? Ek het 'n pos oop as stoorman. Going, going, gone.

Vandag durf ons weer die moddergat aan en kry 'n 5 ton aflewerings wa in die gat en 'n groot interlink lorry wat teen volspoed van voor af kom om net langs die 5 ton vas te val. Hy kom uiteindelik uit na agter en dit is my beurt. Ons gaan skraap skraap met ons pens deur die diep slote.

By die Nyirenda myn slaan ons tent op en die swartes kan nie glo in watse styl ons bly nie. Hulle het tot 'n langdrop met 'n dakkie vir Oupa gebou. Ons kamp staan maar ons slaap vanaand nog in die warm bed.

Terug moet ek weer deur die moddergat. Dieselfde lorry wat vroer daar was is weer daar en die groot reën dreig. Pa vra of ek eers gaan inspeksie hou en my antwoord is om voet in die hoek te sit en volspoed deur die diep slote te jaag en met so laaste spin dit net net te maak.

Ons sien die gestreepte wipstert wat so skelmpies in die onderbos verdwyn.

More is die groot trek.

Saturday, 15 February 2014

15 en 16 Februarie

15 Februarie

By Mbewe se nuwe myn is die son kwaad en brand ons goed rooi. Ek is sommer vies vir Pa dat hy nie onder die skaduwee gaan sit het nie, hy lyk vanoggend OK.

Ons prospekteer en ontdek plek vir nog 7 myne. 'n Mens kan definitief hier geld maak as jy bereid is om die kultuur te aanvaar en dan met die Malawiers te werk. Pa is kort van draad want Mbewe mors nog 'n halfuur van ons tyd om met sy werkers te praat.

Ons wag by die Pastoor se  myn vir Mbewe en kyk na hoe die boontjies prut op die vuur en ek dink aan ons beplande kampeerdery daar en sien uit daarna maar vanaand in ons warm kamer met die reën wat aanhoudend val dink ek hoe ongemaklik dit gaan wees as dit so reën. Agnes kla oor die kos wat sy moet gee wanneer dit reën en die verlore tyd wanneer mense nie wil werk nie,  Loyd sê dat hy eers weer gaan myn in die 'dry season' en ek verstaan die situasie so effens beter want dit reën aanmekaar.

By die myn waarsku hulle ons oor die toestand van die kortpad, maar hulle vrese is ongegrond. Die oorgroeide stand van die pad wys my hoe min voertuie die laaste tyd uit myn toe was en dat dinge in die reënseisoen definitief stadiger is. Die bakkie se kragstuur groet en ek kry 'n goeie workout om die stywe stuur te battle. Maar ons wil geld maak en die Malawiers in nie te veel gepla oor geld nie.

17 Feb

Vanoggend gaan ons na die chaotiese mark om 'n pyp te soek, by die 5de stalletjie kry ons 'n ou pyp wat kan werk. Toe ons wil ry keer die polisie ons. Niemand mag nou naby die pad kom nie want die President se motorkade is op pad. Met loeiende alarms jaag die motorkade deur die dorp. Teminste 5 humvies met gewapende soldate wat uit die voertuig hang en nog 'n dosyn ander hooggeplaastes jaag verby. As jy dit tot bo maak in die politieke range dan word jy baie belangrik.

Ek lag nou so lekker, my spellchecker sê okkultiese instede van politieke en ek dink dat dit nogal akkuraat is hier. Donald was tot die dood toe siek die laaste maand en baie van die swak prestasie word hieraan toegewys. Na 'n besoek aan die toordokter haal hulle 'n gewas so groot soos 'n flits battery langs sy klokke uit.

Teen 11 uur is ons op pad na Nkhata Bay om die 3 ton (of geen) klip te gaan soek. Die vraag is of dit die regte klip is en of die klip nog daar is een of dit werklik 3 ton is. Verskoon tog as ek op die stadium skepties is oor al die beloftes.

Nkhata Bay is die rustigheid self. Na pap en hoender in 'n restaurant met luide musiek het ons die meer gesien by Simon van die UK en Kelly van Port Elizabeth. Hulle het 'n duik skool net langs die meer. Dit is hemels. Wens julle was almal hier.

Ons dink dit is 'n vinnige besigheid en bewys weer dat Afrika jou met 'n curveball kan gooi. Nee julle kan nie vandag na die klip gaan kyk nie maar more oggend. Hoe ver is dit? So 3-4 ure per boot. En hoe ver dan na die myn? So 300 meter. Julle moet 'n sak meel vir die Chief van die area saamneem anders sal julle nie aanvaar word nie.

Ons het geen ekstra klere ingepak. Nie eers 'n tandeborsel nie. Maar ons sal moet oorslaap. Ons word by die area Chief se huis verwelkom. Dit is 'n sy. Sy trek haar Chieftain klere aan en vra dat ons haar moet aanneem. Die res van die middag word spandeer om 'n boot te probeer kry om ons klip te gaan laai. Ons hoop dat dit nie tevergeefs gaan wees nie.

Ons plan het nou net weer verander. Ons gaan Samson stuur om eers vir ons verslag te doen. Hy moet saam met 2 ander gaan wat weet waar dit is. Dan moet hulle 'n sak mieliemeel saamvat vir die chief en die hele aksie gaan 3 dae neem. Wel dit is Afrika.

Thursday, 13 February 2014

14 Februarie

Vanoggend is die wêreld lekker nat na nog 'n nag se reën. Die boere se tabak staan geil op die lande. Maar in ons kamer is daar nie 'n druppel water nie. Wel miskien tien druppels. Pa kry die 10 druppels en seep homself van kop tot tone net om te ontdek dat die 10 druppels verdwyn het. Na 'n lang gesukkel het hy die seep afgewas.

Brekfis is weer chips, eier en toast met grondboontjie botter. Ons het gisteraand nie geëet nie want my gees was te verslae. Arme Pa moes n paar droë pruime eet. So die brekfis was heel welkom. Ons betaal 5000 Kwacha per aand en dit sluit brekfis in, die Rand ruil teen 38 Kwacha vir een Rand. Dus so R132 per aand vir ons altwee. Wel dan kan 'n mens nie te veel kla oor die water nie. Dit is 'n distriks probleem en sal een of ander tyd uitgesorteer word.

By die kantoor moet ek aanhoor hoekom die stoor so leeg is. Maar die verskonings is maar dun. Basies het hulle maar nie dieselfde dryf as ons om klip te kry nie. Ons ry na die Gausi myn waar ons omtrent 500 meter berg af en berg op moet stap deur die mooiste natuurlike bos. O ja ons het gister die bloukop Loerie gesien. Die mooiste voël. Die Gausi myn het onlangs 'n groot hoeveelheid aan ons verskaf. By die myn kry ons net 2 werkers. Ons reël vir 'n ekstra 18. Hopelik sal hulle op volspoed wees vlg week.

Ons sien vir Mbewe wat Pa nogal beïndruk het. Ou Bernard as jy gedink het jy kan drukkies gee moet jy maar 'n paar lesse kom leer by Mbewe. Hy druk amper Pa se ribbetjies stukkend. Hy vat ons more na 'n ander myn wat hoë produksie het maar geen geld gaan gegee word sonder klip nie.

Op pad uit die dorp kry ons vir Soni wat ons Sondag na 'n ander myn toe gaan neem.

Met beter bestuur gaan ons slaag en uiteindelik hier in Malawi geld maak.

By die kamer ontdek ons dat die klein swart miertjies hulle eie ontdekking gemaak het. Hulle wou ons beskuit een krummeltjie op 'n slag wegdra. Na 'n groot cleanup aksie het Pa die beskuit gered.

PRYS God daar is water in die kraan.

13 Februarie

13 Februarie

My batterye is behoorlik pap vanaand. Ek wens ek het goeie nuus gehad maar daar is nie regtig goeie nuus nie. Die 24 ste Desember los ek Donald met 2300 kg in die stoor. Hy kry nog ekstra geld, genoeg geld om die besigheid goed te bestuur en gee my die vlg syfers.

Hi Gerdus, here are the Weigts: Vicent Gausi 2500 kgs, Nyirenda 2800 kgs, Mwandula 1500 kgs. I hope we will have more kgs within the week.

Ek en Pa stap vanoggend in die stoor in en sien nie die 9 ton wat daar moet wees nie. Dit is net nie daar nie. Nou verstaan ek die ding nie mooi nie. Ek het dan van Donald spesifieke syfers gekry. Vanaf 24 Desember het hy net 2 ton bygesit. Daar is net 4.4 ton in die stoor.

Ek en Pa besluit om aksie te neem en is na Loyd toe waar ons 700 kg gekry het en toe na 3 ander myne om die dag af te sluit met 1.5 ton se ekstra klip in die stoor. Die een groot klip se foto het julle al gesien. Ons trek nou eers op 6 ton en 25 ton lyk baie ver weg. In een dag doen ons soveel soos Donald in 6 weke gedoen het.

More oggend sien ons die eerste keer in 2 dae vir Donald en dan gaan die vonke spat. More sal bepaal of ek die vlg 5 jaar my energie hier wil insit.

Jammer vir die plat noot.

Ons gaan Maandag 30 mense oppas by een myn vir so 2 weke om 'n idee te kry van die werklike moontlikheid met meer mense.

Wednesday, 12 February 2014

11 en 12 Februarie

11 February

Ons dag begin al vroeg met 2 Italianers wat met motorfietse regdeur Afrika ry van Cape to Cairo. Ek en PA sit en eet ons beskuit terwyl hulle saam met die ander inwoners van die backpackers lodge hulle brekfis eet. Dit was ook die laaste kos wat ek en Pa gehad het tot 5 uur die middag want ons was die res van die dag in meetings. Eers met die ingenieur met die shifty oë. En toe met Donald se prokureur. Iets wat net 'n halfuur behoort te neem vat sommer 4 ure. Wel ek het haar seker 'n maand se salaris gegee, dan kan jy seker 4 ure neem van jou kliënt se tyd.

Ons los die trailer by motorwerktuigkundige wat die nommerplaat moet afhaal en hom moet registreer. Terselfdertyd maak hulle die hilux se starter reg en bedrading. Naderhand is omtrent al die bakkie se drade uitgeruk en dit lyk te aardig.

Pa spot naderhand want elke keer as Donald naderstap weet ons dat hy wil geld vra.  Ons haal een van die deurslagboekies uit en laat hom vir die geld teken en gee hom 'n speech oor al hulle uitgawes. Pa admireer my vir my geduld. Hy sê hy is ook meer verdraagsaam vandat hy so lekker met Bernard gekuier het. Mooi boetie, doet so voort.

Lilongwe is mal, min ander plekke sal jy soveel taxis in een plek kry. Ons druk druk ons neus tussen die taxis in en word net soos hulle. Ek sal nou ook 'n taxi kan bestuur langs Pretoria se besige strate.

Plek plek is die soom van die pad so hoog verweer dat jy jou hele onderstel sal verloor as jy per ongeluk van die pad afry. Naby die motorwerktuigkundige se werkswinkel is daar gate vol bruin water wat ons moet deurry wat so groot is dat jou voertuig amper tot by die deure in die water verdwyn. Dit is nou die oorsese ouens se ware Afrika.

12 Februarie

Ons gee Donald geld vir petrol en vat die pad en maak een stop by Barloworld waar Clement my R720 000 wil vra vir 'n Tlb wat alreeds 6600 ure gewerk het.  In SA betaal ek R280000 vir dieselfde ure masjien.

Ek en pa is pootuit. Ons het nou by Mame lodge aangekom nadat ons meer as 'n uur vasgesit het naby Donald se myn. Ek ry van die pad af om vir Pa te gaan wys waar ons gaan kamp die vlg paar dae. Ons ry teen 'n afdraande af tot by die een myn en stap daar rond en draai toe om net om te ontdek dat die pad eintlik seepglad is. Ons ry drie keer tot onder en met die vlg probeerslag kom ons so twee derdes teen die bult uit. Ek besef ons sal nie verder kan kom nie. Ons gooi eers stompies onder die wiele en toe dit nie veel help nie haal ek een van die groen matrassies af en die Sjinese mat wat welcome in Engels en Sjinees sê. Op daardie stadium het ons nie so welcome gevoel nie. Ons gooi die Sjinese mat en een van die groen matrassies voor die wiele en toe vorder ons 3 tree op 'n slag. Dit reën nou weer swaar en ek ys om te dink hoe ons dalk vir dae vasgevang sou gewees het by daai myn. Dank God ons is in 'n warm bed, maar agv die weer is die krag af.

Ons het nou al 45 voëltjies op ons kerf maar ons wens so dat Bernard hier was want helfte van wat ons sien ken ons nie.

Tot more

Monday, 10 February 2014

10 Februarie

10 Februarie

Vroeg oggend kyk ek en Pa na die hammerkoppe en probeer uitwerk watter vuurvinkie ons na kyk terwyl 6 kafferbrakke al ons voëls verjaag. Ons sit 12 voëls by op ons lys. Wat 'n fees. Aan die brekfis tafel gesels ons met 3 Switserse burgers wat besig is om 'n film te maak oor aquarium vis. Hulle vertel ons dat daar 600 soorte aquarium vis in Malawi meer is waarvan baie soorte hoogs gesog is oral in die wêreld. Hulle is onmiddellik geïnteresseerd in die myne vir 'n nuwe storie.

Op pad ry ons oral aan om tyd op te maak want ons meetings is eers more oggend. Ons stop by die meubelmakers en hoor dat 'n hele stel R900 kos voor afslag.

Die koedoe horings trek ons aandag en ons stop dadelik en vra toestemming om 'n foto te neem saam met die dansers wat die oes moet seën. Agter staan die nuwe tabak variëteite geil en vertel die agent al die boere van die goeie twak

Dan stop ons by 'n mark om gebraaide mielies te koop. By die rivier ry ons van die pad af en stop om koffie te drink. Verlate en al te rustig vir 5 minute en toe het ons 'n gallery van 7 mense. die kleintjies het 'n storie om te vertel. "ons het sulke mal witmense gesien wat ons beeste afgeneem het en droë koekies in bekers gedruk. Kan jy dit vir iemand oorvertel?"

Pa is baie beïndruk met die mielies wat elke heuwel toe groei en agv goeie reën die jaar, so hoog as 'n mens se kop groei. Die fietse wat as taxi's ingespan word is al afgeneem en is verewig op Pa se kamera vasgevang.

Ons slaap in 'n backpackers met raserige mense van orals oor. Ons kamer het 4 beddens en ons is gelukkig alleen in die kamer. Donald hulle kom eers na donker hier aan. Wat sê Chris. "He is unorganized"

Sunday, 9 February 2014

8 en 9 Februarie

Na donker kom ons aan by Nya-Panda lodge net voor Masvingo. Ons is nie lus om ander slaapplek te soek nie en kry ou Leo af na $50 vir die kamer vanaf $90. Leo lyk so belangrik toe hy die complicated log in, log out aksie doen om ons in te boek. Hy vra R150 vir 'n steak. Nee dankie, nie nadat ons R550 vir die kamer betaal het. Hy het net een gas die vorige nag gehad en kla dat besigheid stadig is. Leo wake up and smell the roses. Die ketel werk nie en die kraan drip, drip net.

Net voor Harare kom daar 'n trok van voor af met 'n trekker en ploeg. Ons is net betyds van die pad af anders was ons afkop. Die ploeg steek seker 'n goeie 2 meter oor elke kant. En boonop reën dit so dat sigbaarheid minder as 100 meter is.

Net buite Harare jaag polisie my van agter in en vra hoekom ek nie gestop het toe hulle my probeer stop het nie. Ek vra waar en word vertel dat dit so 5 km terug was en dat ek oor 'n rooi robot gery het en dat hulle my gaan arresteer en my voertuig gaan impound. Maar as ek hulle $350 gee kan hulle die probleem laat weggaan. Hulle is so ernstig en ek kry hulle net af tot by $300. Ek is kwaad maar betaal maar want dit is Afrika.

By die Mosambiek grens wil hulle deur al ons kampeer goed gaan. Dit kos my daar R150 om die regte stempels te kry en hulle uit ons bokse te hou.

In Mosambiek is die paaie pragtig tot buite Tête waar die pad so sleg raak dat jy letterlik in die slaggate inry en dan weer uitry aan die ander kant. Sleepwa en al. Baie groot gate. Ons spoed val na omtrent 20 km per uur. Gelukkig was die laaste 160 weer nuwe paaie. Hulle het nog nie daai nuwe pad stukkend gery nie. Orals reën dit en die riviere loop oor hulle walle

By Dedza grenspos vra ons die ou by die assuransie om asb die trailer nie op die (TIP)Temporary importation permit te sit nie. Dit kos my R200 ekstra en nou het ons 'n trailer vir die myn wat nie eers ingevoer hoef te word nie. As julle nie verstaan wat ek gedoen het nie sal julle my vir ete moet nooi en dan sal ek mooi verduidelik wat gebeur het.

Pa sny die biltong vir ons in klein skuifies en deel so elke dan en wan 'n sweetie uit, ons drink lekker koffie uit die vles. As Pa sy kierie uithaal help almal hom.

9 February

Vroegoggend maak die vlermuise ons wakker met hulle skril geluide en net daarna klop die karwag aan die deur met 'n emmer warm water vir bad. Wel toe is ons maar wakker en begin opstaan. Alles is so skoon en vars na die reën. Ons vat die pad na Monkey Bay en ry deur een van die mooiste paaie wat ek nog ooit gery het. Elke paar tree stop ons om nog mooi voëltjies te kyk. Ek voel elke keer onveilig om so in die pad te stop maar die pad is stil en net ons s'n. 'n Geel flap en 'n bloedrooi wewer en 'n skugter sneeubal en 'n koningrooibekkie is maar net 'n paar van die meer as dosyn voëls wat ons kan eien. Te gou is ons deur die mooi pad om weer al konsentrerende die Malawiers wat in diepad loop mis te ry. Brekfis was koffie en beskuit. Dankie Donna. Ons ruil 2 buns vir 2 groot TAMATIES vir later se ete.

By die meer ry ons van een lodge na 'n ander om slaapplek te soek, die een is te duur en die ander een het geen karakter. Uiteindelik kry ons 'n plek waarvan ons albei hou. Die lodge het pragtige grasperke tot teen die water. In die mark het ons bokvleis gekoop. So 500 gram se vleis. Pa trim hulle met sy knipmes totdat elke seningtjie af gesny is. Ek kap hulle met die piering soos die garing vleis. Gasbottel op die strand en binne 15 minute het ons rys, driebonewortel slaai en gebraaide bokvleis. Wie wil saam eet? Nou net met Donald gepraat en hy sê dat hulle 'n 500 kg kristal uitgehaal het by ons nuwe myn. Ons kan nie wag om hom te sien nie. Hier kom groot dinge.