11 February
Ons dag begin al vroeg met 2 Italianers wat met motorfietse regdeur Afrika ry van Cape to Cairo. Ek en PA sit en eet ons beskuit terwyl hulle saam met die ander inwoners van die backpackers lodge hulle brekfis eet. Dit was ook die laaste kos wat ek en Pa gehad het tot 5 uur die middag want ons was die res van die dag in meetings. Eers met die ingenieur met die shifty oë. En toe met Donald se prokureur. Iets wat net 'n halfuur behoort te neem vat sommer 4 ure. Wel ek het haar seker 'n maand se salaris gegee, dan kan jy seker 4 ure neem van jou kliënt se tyd.
Ons los die trailer by motorwerktuigkundige wat die nommerplaat moet afhaal en hom moet registreer. Terselfdertyd maak hulle die hilux se starter reg en bedrading. Naderhand is omtrent al die bakkie se drade uitgeruk en dit lyk te aardig.
Pa spot naderhand want elke keer as Donald naderstap weet ons dat hy wil geld vra. Ons haal een van die deurslagboekies uit en laat hom vir die geld teken en gee hom 'n speech oor al hulle uitgawes. Pa admireer my vir my geduld. Hy sê hy is ook meer verdraagsaam vandat hy so lekker met Bernard gekuier het. Mooi boetie, doet so voort.
Lilongwe is mal, min ander plekke sal jy soveel taxis in een plek kry. Ons druk druk ons neus tussen die taxis in en word net soos hulle. Ek sal nou ook 'n taxi kan bestuur langs Pretoria se besige strate.
Plek plek is die soom van die pad so hoog verweer dat jy jou hele onderstel sal verloor as jy per ongeluk van die pad afry. Naby die motorwerktuigkundige se werkswinkel is daar gate vol bruin water wat ons moet deurry wat so groot is dat jou voertuig amper tot by die deure in die water verdwyn. Dit is nou die oorsese ouens se ware Afrika.
12 Februarie
Ons gee Donald geld vir petrol en vat die pad en maak een stop by Barloworld waar Clement my R720 000 wil vra vir 'n Tlb wat alreeds 6600 ure gewerk het. In SA betaal ek R280000 vir dieselfde ure masjien.
Ek en pa is pootuit. Ons het nou by Mame lodge aangekom nadat ons meer as 'n uur vasgesit het naby Donald se myn. Ek ry van die pad af om vir Pa te gaan wys waar ons gaan kamp die vlg paar dae. Ons ry teen 'n afdraande af tot by die een myn en stap daar rond en draai toe om net om te ontdek dat die pad eintlik seepglad is. Ons ry drie keer tot onder en met die vlg probeerslag kom ons so twee derdes teen die bult uit. Ek besef ons sal nie verder kan kom nie. Ons gooi eers stompies onder die wiele en toe dit nie veel help nie haal ek een van die groen matrassies af en die Sjinese mat wat welcome in Engels en Sjinees sê. Op daardie stadium het ons nie so welcome gevoel nie. Ons gooi die Sjinese mat en een van die groen matrassies voor die wiele en toe vorder ons 3 tree op 'n slag. Dit reën nou weer swaar en ek ys om te dink hoe ons dalk vir dae vasgevang sou gewees het by daai myn. Dank God ons is in 'n warm bed, maar agv die weer is die krag af.
Ons het nou al 45 voëltjies op ons kerf maar ons wens so dat Bernard hier was want helfte van wat ons sien ken ons nie.
Tot more
No comments:
Post a Comment