Sunday, 9 February 2014

8 en 9 Februarie

Na donker kom ons aan by Nya-Panda lodge net voor Masvingo. Ons is nie lus om ander slaapplek te soek nie en kry ou Leo af na $50 vir die kamer vanaf $90. Leo lyk so belangrik toe hy die complicated log in, log out aksie doen om ons in te boek. Hy vra R150 vir 'n steak. Nee dankie, nie nadat ons R550 vir die kamer betaal het. Hy het net een gas die vorige nag gehad en kla dat besigheid stadig is. Leo wake up and smell the roses. Die ketel werk nie en die kraan drip, drip net.

Net voor Harare kom daar 'n trok van voor af met 'n trekker en ploeg. Ons is net betyds van die pad af anders was ons afkop. Die ploeg steek seker 'n goeie 2 meter oor elke kant. En boonop reën dit so dat sigbaarheid minder as 100 meter is.

Net buite Harare jaag polisie my van agter in en vra hoekom ek nie gestop het toe hulle my probeer stop het nie. Ek vra waar en word vertel dat dit so 5 km terug was en dat ek oor 'n rooi robot gery het en dat hulle my gaan arresteer en my voertuig gaan impound. Maar as ek hulle $350 gee kan hulle die probleem laat weggaan. Hulle is so ernstig en ek kry hulle net af tot by $300. Ek is kwaad maar betaal maar want dit is Afrika.

By die Mosambiek grens wil hulle deur al ons kampeer goed gaan. Dit kos my daar R150 om die regte stempels te kry en hulle uit ons bokse te hou.

In Mosambiek is die paaie pragtig tot buite Tête waar die pad so sleg raak dat jy letterlik in die slaggate inry en dan weer uitry aan die ander kant. Sleepwa en al. Baie groot gate. Ons spoed val na omtrent 20 km per uur. Gelukkig was die laaste 160 weer nuwe paaie. Hulle het nog nie daai nuwe pad stukkend gery nie. Orals reën dit en die riviere loop oor hulle walle

By Dedza grenspos vra ons die ou by die assuransie om asb die trailer nie op die (TIP)Temporary importation permit te sit nie. Dit kos my R200 ekstra en nou het ons 'n trailer vir die myn wat nie eers ingevoer hoef te word nie. As julle nie verstaan wat ek gedoen het nie sal julle my vir ete moet nooi en dan sal ek mooi verduidelik wat gebeur het.

Pa sny die biltong vir ons in klein skuifies en deel so elke dan en wan 'n sweetie uit, ons drink lekker koffie uit die vles. As Pa sy kierie uithaal help almal hom.

9 February

Vroegoggend maak die vlermuise ons wakker met hulle skril geluide en net daarna klop die karwag aan die deur met 'n emmer warm water vir bad. Wel toe is ons maar wakker en begin opstaan. Alles is so skoon en vars na die reën. Ons vat die pad na Monkey Bay en ry deur een van die mooiste paaie wat ek nog ooit gery het. Elke paar tree stop ons om nog mooi voëltjies te kyk. Ek voel elke keer onveilig om so in die pad te stop maar die pad is stil en net ons s'n. 'n Geel flap en 'n bloedrooi wewer en 'n skugter sneeubal en 'n koningrooibekkie is maar net 'n paar van die meer as dosyn voëls wat ons kan eien. Te gou is ons deur die mooi pad om weer al konsentrerende die Malawiers wat in diepad loop mis te ry. Brekfis was koffie en beskuit. Dankie Donna. Ons ruil 2 buns vir 2 groot TAMATIES vir later se ete.

By die meer ry ons van een lodge na 'n ander om slaapplek te soek, die een is te duur en die ander een het geen karakter. Uiteindelik kry ons 'n plek waarvan ons albei hou. Die lodge het pragtige grasperke tot teen die water. In die mark het ons bokvleis gekoop. So 500 gram se vleis. Pa trim hulle met sy knipmes totdat elke seningtjie af gesny is. Ek kap hulle met die piering soos die garing vleis. Gasbottel op die strand en binne 15 minute het ons rys, driebonewortel slaai en gebraaide bokvleis. Wie wil saam eet? Nou net met Donald gepraat en hy sê dat hulle 'n 500 kg kristal uitgehaal het by ons nuwe myn. Ons kan nie wag om hom te sien nie. Hier kom groot dinge. 

No comments:

Post a Comment