Ons vat die pad Zambië toe met net die basics in die kar. Ons beplan om een of twee nagte daar oor te slaap. Ons ry saam met Ray want hy sê dat hy al die myne ken in daai geweste. Maar ons moet eers Noord om 'n ander myn te besoek.
By Embangweni is daar 'n beesveiling en orals word sulke maer klein tipe bees aangejaag. Die een ou het die ossie met 'n riem aan die agterpoot en stoei om hom uit die pad uit te kry sodat ons kan verby.
By Endingweni kry ons hordes mense wat al 5 km flink aanstap dorp toe. Al te kleurvol. Dit is markdag. Fiets bande, goedkoop radios, potte, doeke, vis, charcoal en nog wat word oral langs die pad uitgestal en dit is al te vrolik. Maar ons ry net deur en geniet die kleurvolle spul so uit die motor. Oupa probeer die geroesemoes afneem, maar 'n mens kan dit eintlik net ervaar. So 10 km verder vra ons rigting. Op en af met dieselfde pad kom ons uiteindelik by dieselfde myn wat ek in Oktober laas jaar by was. Maar die slag is die myn onder 2 meter diep water. Daar is skynbaar juweliersgehalte stene in die gat maar die saak moet wag tot na die reënseisoen voordat dit weer gemyn gaan word.
Ons kom so 12 uur by die grenspos aan. Dit is omtrent net 'n stok oor die pad. Al die doeane personeel sit onder 'n boom. Ons vul die register in en binne 5 minute is ons op pad na Zambië.
Ray loop net oor die grens want hy het nie 'n paspoort nie.' Nou Ray hoe gaan ons die klip oor die grens kry.' "That is not a problem, once we are there we just past the border anywhere with the stones." OK!
Maar ons neem 'n wyse besluit om dit eerder nie te probeer nie want die Afrika tronke het nie sulke lekker beddens nie. Aan die Zambiese kant vertel ons die man dat ons eintlik net ons paspoorte wil hernu met 'n nuwe stempel. Hy sê dat dit geen probleem is en stap die 100m saam met ons terug en so R180 later is ons weer wettig terug in Malawi.
Terug by die kar vra 'n welgeklede dame ons vir 'n lift. Waarheen gaan jy? Na Embangweni. Dit is presies waar ons kamp. Sy prys God, want ons is 'n antwoord op gebed.
Terug by die myn kry ons die myners in die dorp en nie by die myn nie. Ray is woedend. Hulle gebruik die oomblik wat ons weg is om rond te loop.
Laasnag waai die wind ons omtrent weg. As jy wakker word waai die wind nog een strook deur. Gelukkig is die tent goed geanker en ons oorleef die wind.
Vanoggend durf ons weer die bobbejaan pad na Agnes se myn. Pa sê dat net 'n dronk bobbejaan op so 'n pad hoort. Die pad lyk of hy nooit gery word nie en vat ons deur die hart van die Perekezi forrest. Inheemse woude orals om jou. Te pragtig. By Agnes se myn spandeer ons seker 2 ure om na haar specimens te kyk. Ek koop so 50 kristalle met water bubbles in en kan nie wag om hulle na my winkel te vat nie.
Uiteindelik vat ons die kortpad terug dorp toe en ja, daar sit ons weer vas. Gelukkig is ons naby 'n myn en 2 manne met 'n graaf grou ons uit. By die stoor weeg ons en sorteer ons al die goed wat ons moet terugneem SA toe. Ons merk dat die een band pap lyk en besluit om hom te laat bekyk. Langs die pad lê 'n hoop bande en dit merk ook toe die plek waar hulle jou band in 'n japtrap sal regmaak. Terwyl hulle die band regmaak kyk ek hoe die een man vars vis van die meer verkoop. Ons koop 'n medium grootte vis en by die kamp maak ons hom in die Cobb gaar. Die vis was bitter deur en deur. Francois wat het ek fout gemaak?
No comments:
Post a Comment