Saturday, 15 February 2014

15 en 16 Februarie

15 Februarie

By Mbewe se nuwe myn is die son kwaad en brand ons goed rooi. Ek is sommer vies vir Pa dat hy nie onder die skaduwee gaan sit het nie, hy lyk vanoggend OK.

Ons prospekteer en ontdek plek vir nog 7 myne. 'n Mens kan definitief hier geld maak as jy bereid is om die kultuur te aanvaar en dan met die Malawiers te werk. Pa is kort van draad want Mbewe mors nog 'n halfuur van ons tyd om met sy werkers te praat.

Ons wag by die Pastoor se  myn vir Mbewe en kyk na hoe die boontjies prut op die vuur en ek dink aan ons beplande kampeerdery daar en sien uit daarna maar vanaand in ons warm kamer met die reën wat aanhoudend val dink ek hoe ongemaklik dit gaan wees as dit so reën. Agnes kla oor die kos wat sy moet gee wanneer dit reën en die verlore tyd wanneer mense nie wil werk nie,  Loyd sê dat hy eers weer gaan myn in die 'dry season' en ek verstaan die situasie so effens beter want dit reën aanmekaar.

By die myn waarsku hulle ons oor die toestand van die kortpad, maar hulle vrese is ongegrond. Die oorgroeide stand van die pad wys my hoe min voertuie die laaste tyd uit myn toe was en dat dinge in die reënseisoen definitief stadiger is. Die bakkie se kragstuur groet en ek kry 'n goeie workout om die stywe stuur te battle. Maar ons wil geld maak en die Malawiers in nie te veel gepla oor geld nie.

17 Feb

Vanoggend gaan ons na die chaotiese mark om 'n pyp te soek, by die 5de stalletjie kry ons 'n ou pyp wat kan werk. Toe ons wil ry keer die polisie ons. Niemand mag nou naby die pad kom nie want die President se motorkade is op pad. Met loeiende alarms jaag die motorkade deur die dorp. Teminste 5 humvies met gewapende soldate wat uit die voertuig hang en nog 'n dosyn ander hooggeplaastes jaag verby. As jy dit tot bo maak in die politieke range dan word jy baie belangrik.

Ek lag nou so lekker, my spellchecker sê okkultiese instede van politieke en ek dink dat dit nogal akkuraat is hier. Donald was tot die dood toe siek die laaste maand en baie van die swak prestasie word hieraan toegewys. Na 'n besoek aan die toordokter haal hulle 'n gewas so groot soos 'n flits battery langs sy klokke uit.

Teen 11 uur is ons op pad na Nkhata Bay om die 3 ton (of geen) klip te gaan soek. Die vraag is of dit die regte klip is en of die klip nog daar is een of dit werklik 3 ton is. Verskoon tog as ek op die stadium skepties is oor al die beloftes.

Nkhata Bay is die rustigheid self. Na pap en hoender in 'n restaurant met luide musiek het ons die meer gesien by Simon van die UK en Kelly van Port Elizabeth. Hulle het 'n duik skool net langs die meer. Dit is hemels. Wens julle was almal hier.

Ons dink dit is 'n vinnige besigheid en bewys weer dat Afrika jou met 'n curveball kan gooi. Nee julle kan nie vandag na die klip gaan kyk nie maar more oggend. Hoe ver is dit? So 3-4 ure per boot. En hoe ver dan na die myn? So 300 meter. Julle moet 'n sak meel vir die Chief van die area saamneem anders sal julle nie aanvaar word nie.

Ons het geen ekstra klere ingepak. Nie eers 'n tandeborsel nie. Maar ons sal moet oorslaap. Ons word by die area Chief se huis verwelkom. Dit is 'n sy. Sy trek haar Chieftain klere aan en vra dat ons haar moet aanneem. Die res van die middag word spandeer om 'n boot te probeer kry om ons klip te gaan laai. Ons hoop dat dit nie tevergeefs gaan wees nie.

Ons plan het nou net weer verander. Ons gaan Samson stuur om eers vir ons verslag te doen. Hy moet saam met 2 ander gaan wat weet waar dit is. Dan moet hulle 'n sak mieliemeel saamvat vir die chief en die hele aksie gaan 3 dae neem. Wel dit is Afrika.

No comments:

Post a Comment