Thursday, 20 February 2014

20 Februarie

So net voor sononder kom hier so lang man aan met die van Banda (elke 2de ou hier is 'n Banda) Die man is swaar gewapen. Hy het 'n pyl en boog met 2 pyle en 'n assegaai en 'n kapbyl. Hy is hier om ons op te pas. Oupa gee hom die evangelie van Johannes in Chichewa. Die dankbaarheid straal uit sy gesig.

Aandete was gerookte oesters met kerrie pastaslaai. Alte lekker. Ons kyk Furious Love en sien hoe God die mense bevry en wat ware liefde beteken en dink aan Bernard. Bernard jy sal die dokumentêr net so geniet soos ons dit geniet het. Dankie vir jou skrywe aan Pa.

So teen 7 uur begin dit sag reën en ons vlug binne in die tent in en my lead is nie lank genoeg om verder Movie te kyk nie. Toe gaan ons maar slaap. Die voëlgeluide is tipies. Die Afrikaanse Naguil skree sy Afrika lied. "maak dood die towenaar" (oupa)

As jy roer in die nag sit die wag sy koplamp aan en kug sodat jy weet hy is nog hier. Ons is bevoorreg en glo dat ons met die regte hoeveelheid energie, dit is nou werkers 'n container 'n maand kan volmaak. Vir $4000 kan ek 160 werkers orals laat grou.  En dit is gelykstaande aan die terugbetaling op een excavator by een myn. Ek gaan nou eers kyk wat 160 werkers per maand kan doen.

Ek en Pa dink 'n meestersplan uit oor hoe om so 'n groot besigheid te bedryf. Ek gaan definitief vir Chris se bestuurder nodig hê. Hy ken die omstandighede hier en praat al hulle taal. Hy is ook presies en hard genoeg en sal kostes laag hou.

Ons smeer sunscreen en gaan sit by die myn. 'n Goeie pocket kom uit en ons kry net vandag 225 kg van die een myn. Ons maak nog 2 myne oop vandag en ons dinge lyk al beter. Ons nuwe plan is om 25 myne te mikrobestuur en verwag net 50 kg van elke myn per dag. Een van die nuwe myn se eienaars hoor my verwagting en lag oor my lae teiken. Maar die syfers lieg nie en ek sien weer hoe elke myner glo in sy eie droom en die droom is nie altyd gebou op realisme nie.

Ons kamp is droog na 'n dag se son maar dit drup drup nou al weer met so koel windtjie.

No comments:

Post a Comment