Vanoggend is die wêreld lekker nat na nog 'n nag se reën. Die boere se tabak staan geil op die lande. Maar in ons kamer is daar nie 'n druppel water nie. Wel miskien tien druppels. Pa kry die 10 druppels en seep homself van kop tot tone net om te ontdek dat die 10 druppels verdwyn het. Na 'n lang gesukkel het hy die seep afgewas.
Brekfis is weer chips, eier en toast met grondboontjie botter. Ons het gisteraand nie geëet nie want my gees was te verslae. Arme Pa moes n paar droë pruime eet. So die brekfis was heel welkom. Ons betaal 5000 Kwacha per aand en dit sluit brekfis in, die Rand ruil teen 38 Kwacha vir een Rand. Dus so R132 per aand vir ons altwee. Wel dan kan 'n mens nie te veel kla oor die water nie. Dit is 'n distriks probleem en sal een of ander tyd uitgesorteer word.
By die kantoor moet ek aanhoor hoekom die stoor so leeg is. Maar die verskonings is maar dun. Basies het hulle maar nie dieselfde dryf as ons om klip te kry nie. Ons ry na die Gausi myn waar ons omtrent 500 meter berg af en berg op moet stap deur die mooiste natuurlike bos. O ja ons het gister die bloukop Loerie gesien. Die mooiste voël. Die Gausi myn het onlangs 'n groot hoeveelheid aan ons verskaf. By die myn kry ons net 2 werkers. Ons reël vir 'n ekstra 18. Hopelik sal hulle op volspoed wees vlg week.
Ons sien vir Mbewe wat Pa nogal beïndruk het. Ou Bernard as jy gedink het jy kan drukkies gee moet jy maar 'n paar lesse kom leer by Mbewe. Hy druk amper Pa se ribbetjies stukkend. Hy vat ons more na 'n ander myn wat hoë produksie het maar geen geld gaan gegee word sonder klip nie.
Op pad uit die dorp kry ons vir Soni wat ons Sondag na 'n ander myn toe gaan neem.
Met beter bestuur gaan ons slaag en uiteindelik hier in Malawi geld maak.
By die kamer ontdek ons dat die klein swart miertjies hulle eie ontdekking gemaak het. Hulle wou ons beskuit een krummeltjie op 'n slag wegdra. Na 'n groot cleanup aksie het Pa die beskuit gered.
PRYS God daar is water in die kraan.
No comments:
Post a Comment