By die lughawe sien ons rolle rooi tapyte en manne in luiperd velle wat rond dans. Hulle het toe net vir Mugabe verwelkom wat in sy eie vlug daar aangekom het. Alle verkeer word gestop want die entourage is op pad dorp toe. Flitsende ligte en loeiende alarms voltooi die prentjie. Afrika!
In Lilongwe beland ek in die rykmansbuurt en sien 'n ander sy van Lilongwe. Boardwalk Estates kan amper 'n paar lesse hier kom leer. Een kasarm van 'n huis op die ander. Ek soek slaapplek hier by die lodges maar gee toe maar op en gaan eerder middestad toe. Die pryse daar is 5 maal goedkoper.
Bekende geluide hier in Malawi maak mens vroegoggend wakker wanneer die Muslims hulle volgelinge roep tot gebed. Maar te erg is te erg. Hulle begin all 3 uur en hou 'n hele uur aan want dit is nou Ramadan. Die imam lees iets uit die Koran en sing dan iets en so gaan hulle aan vir 'n uur. Dan is ek wakker en kan nie weer slaap nie.
17 Julie
Mjinge myn, teen Zambië se grens. Die grens is letterlik 200 meter van my kamp. Dit is vroegoggend en ons word wakker met die Kwêvoëls en tortelduiwe. 'n Baie lekkerder klank as die Moslems se gesanik.
Gister sê Malenga vir my dat die mynery soos die lotto is en dit lyk nogal so. Geen wonder die gesnyde stene is so duur nie. Want dit vat 'n massiewe effort om die stene te kry.
Ek is nou so een en 'n half week hier en soek nog na die sweet spot. Die probleem is dat die pik en graaf net te stadig is na my liking. Vanoggend vertel Bentley my dat hulle net 4 meter van waar ons nou myn 'n groot stash gekry het van oor die een kg se gems in een dag. Ek trek nou by 72 gram se hoë graad stene in 8 dae en 16.5 ton se lae graad in my stoor.
Die aquamarine is deel van 'n antieke deposito wat eens die bodem was van 'n binnelandse see. Al die klippe is in een gruis laag neergelê wat bestaan uit, swart toermalyn, kwarts, mica en nog so verskeidenheid ander klippies. Binne hierdie konglomeraat kry jy so verdwaalde aquamarine of 2 wat 5-10mm groot is. Die kleur van sommige is 'n besondere blou wat as AAA geklassifiseer kan word. Wat beteken dit? Jy begin by A en gaan dan na AAAAA. Ek het nog nie die 5xA hier teegekom nie. Gaan ek geld maak hier? As ek my kostes kan laag hou sal ek sekerlik geld maak hier.
Die Sjinese kom volgende maand kyk hoe ons myn. Ek dink hulle gaan verbaas wees oor die primitiewe toestande en ook verbaas wees oor die omvang en grote van hoeveel beryl hier is. Ek is bly dat ek met my aankoms hier in 'n heel nuwe area 3 nuwe myne oopgemaak het. Die area het groot potensiaal. Die beryl wat hier uitkom het 'n donkergroen kleur wat dalk na 'n mooi donker blou kan verander as dit verhit word. Hou vir my duim vas dat dit wel so sal wees. Ek bring voorbeelde saam die einde van die maand om te verhit.
Ek het 'n lang lys van vereistes aan die Sjinese neergelê en toe het hulle sowaar die vermetelheid om te vra hoe ek hulle gaan terugbetaal. Ek het dadelik terugskryf dat daar geen terugbetaling gaan wees nie. Julle kom met die bereidwilligheid om te belê of julle bly in Sjina. My vereistes: Ek soek 'n kamp vir my myn. Voertuig en excavator. Ons sal maar sien hoe groot hulle die hand gaan oopmaak.
Die werkers kom almal van naburige huise en dit maak dit maklik hier want aan die einde van die dag raak die kamp stil en is dit net die naggeluide en o ja die een ou se hifi wat in die verte blêr. Pa klink dit bekend?
Nou ja laat ek terug myn toe om die werkers op te pas dat hulle nie steel nie.
No comments:
Post a Comment