Tuesday, 25 February 2014

25 en 26 Februarie

Ek dink nie een van julle wil in my skoene wees nie. Ons is nat, deurnat. Ek hang my matras onder die afdak op omdat ek wil hê hy moet droog word. Die gewig van die matras trek die afdak so effens af en maak 'n perfekte plekkie vir die water om in te sypel.

Ek en Pa kom eers na 7 by die tent in gietende reën om te sien hoe die water uit my matras drup.

Gister moes ek myself afvra of ek die spiere het om die plan van my in werking te sit. Beide finansieel en emosioneel. As jy weet waarvoor jy mik dan sal jy net moet uithaal en wys. Om al die myne toe te rus is oor die R80000. Dan moet 174 myners gevoer word elke dag. En die logistiek daaraan verbonde. My nuwe man Chris sê hy is reg vir die taak.

Ons hoor gister van klip wat dalk in Zambië net oor die grens lê. Die storie loop so. Ons sponsor vir Gausi wie se myn al oor die 5 ton gelewer het. Hy sê vir iemand anders dat hy voorheen deur 'n Zambier gesponsor was en die wou hom weer sponsor en hy het die man toe geweier. Die man vra hom toe hoekom hy nie vir hom wil grou nie. Hy sê toe dat hy nou lae graad vir witmense grou. Die man is onmiddellik geïnteresseerd omdat hy weet van hope lae graad klip wat net oor die grens in Zambië lê. Hyself sponsor baie mense wat orals grou vir beter graad aquamarine en hy het nog nooit 'n mark gehad vir al sy lae graad nie.

Nou soek ons die "big man"  Zambier se myn in Malawi wat hy sponsor. Ons ry wes so 30 km en die paaie raak al hoe kleiner, naderhand kan ons nie verder en ek los pa in die bakkie en stap bergop en bergaf vir 1.3 km. Sas die Keen leersandale is toe waterdig wat ons in Durban gekoop het.

Hier tref ons 'n myn aan met sulke maer en vuil myners wat grou. Een van hulle sê dat hy weet waar die Zambier se groot myn is in Zambië en dat hy ons daarheen kan vat. Maar dat die Zambier ook 'n vrou in ons dorp Mzimba het en dat ons dalk sy nr by haar kan kry en hom eers moet bel. Dit is nou ons missie vandag.

Ons hoor van 'n laerskool onderwyser wat bevriend is met die Zambier en kyk of ons nie die Zambier se nr by hom kan kry nie. By die skool sit ons nog 'n slag vas en na 10 minute is ons gelukkig uit. By die onderwyser se huis kry ons weer 'n deurbraak. Hy het ongelukkig nie die man se nr nie maar hyself besit 3 myne en met hulp van ons af sal hy al 3 die myne oopmaak en kan ons dit sommer more begin myn. Ons verduidelik hom wat ons nuwe myn plan is en omdat hy intelligent is snap hy dit dadelik. Donald soek geld vir die venture en ek sê, nee. Trek 'n geskrewe budget op en ek en Pa sal die tools gaan koop en dit persoonlik aflaai. Gee jy Donald die geld sal dit dalk vir ander uitgawes aangewend word.

Die 26 ste besoek ons die Nkhanga myn. Ons kry 8 myners met so 6 sakke vol klip. Ek dring daarop aan dat die klip gewas word. Die klip is baie vuil, sommer so bruin van die modder. Hulle sê daar is 'n rivier net so 500 meter weg. Ons laai die sakke en gaan af rivier toe. En hier beleef ek een van daai oomblikke wat net so perfek voel. Mooi bome, kabbelende water en dan kom die mooi klip uit die bruin modder. Ons spring in en begin klas. Na so uur het ons 78 kg se beading grade klip. Party stukke is amper faseteer gehalte. Wow.

Ek betaal hulle en elkeen verdien dubbel wat hulle sou verdien het as hulle vir 'n salaris sou gewerk het. En ek weet net daar en dan dat my besigheidsplan gaan werk. Nou is dit net die uitvoering van die plan. Dit lig my gees en ek en Pa kyk 3 episodes van CSI. Dankie Thea.

No comments:

Post a Comment