Monday, 3 March 2014

4 Maart

Nou hoekom so stil? Net omdat ons dieselfde dinge doen wat ons tot op die punt gedoen het en ek oor omtrent als al geskryf het.

Langs ons tent kom 2 groot wit mushrooms op en ek pluk hulle om later die dag te braai. Ons het nie botter en knoffel nie maar wel peri-peri sous. My hand was bietjie swaar. Hulle het behoorlik gebrand.

Terwyl ons die warm mushrooms eet kom hier 'n streep kommando miere onder die tent uit verby ons voete. Ek gryp die Doom en gee so spuit in die kolom. Hulle begin sis en is kwaad. Toe hardloop hulle die hele wêreld vol ons besluit om eerder pad te gee. Na so halfuur is hulle weer daar maar elkeen met 'n eiertjie in die mond van onder ons tent se grondseil. Ons het gesê dat Afrika nie vir Sussies is nie, nè.

Gister was daar begrafnis. Groot begrafnis. Die myn waar ons bly se Chief se seun is dood. Daar word gesê: "As julle gaan myn, gaan ons al julle tools konfiskeer"

Ons gaan toe maar dorp toe om die stoor uit te sorteer. Ons koop 'n 2de hande kabel in die besige mark en konnekteer hom aan die skaal. Ek swets want die skaal wil nie aan nie. Die enigste verduideliking is dat die koord 2de hands verkoop word omdat hy stukkend is. Ek storm uit die stoor om te sien dat Samson nou net my agterste remme afgehaal het om hulle te diens. Wel dan is dit maar voetslaan die 500 meter dorp toe. Die ding met die Malawiers is dat hulle almal graag groet en die kindertjies skreeu dan Mazungu (witman) so ver ek loop. Gelukkig het die eerste winkel als wat ons nodig het insluitende die regte koord.

Ons begin om die sakke elk in 50 kg te verpak en in rye te pak. N moerawiese werk. So teen 5 uur is almal pap. Ek inkluis. Ek het self so 5 ton se sakke hanteer. Ons tel die rye en maal dit met 50 en kry net 8750 kg. My boeke sê daar moet 10100 kg wees. Maar daar is nog klip wat gewas moet word maar nie 'n volle ton nie. Wat kan ek sê, ver van jou goed, naby jou skade.

In die een hoek lê die lae graad en in die ander hoek die aquamarine wat ek as beading grade wil verkoop. Daardie hopie is al 2.5 ton. Ek bereken dat ek graag $5 per kg wil hê en dit sê my dat daar oor die R100 000 se waarde daar lê. Die vraag is nou, 'wat vat ons saam en wat bly' Want ek sal die klip moet verkoop om die nodige geld te kry om die container vol te kry en weg te kry.

Die oplossing is om als met een batch af te stuur SA toe met 'n trok so oor 2 weke van nou af.

Ons kry laatmiddag 'n oproep van Mike dat hulle nog 'n groot kristal gekry het. Ons gaan vanoggend kyk en kan nie wag om dit te sien nie......... To be continued.....

No comments:

Post a Comment