Ons laai vir Ray en Pastoor by Embangweni af. Hulle jaag ander klip wat by 'n ander myn in die distrik is.
Ons besluit om die reguit pad Mzimba toe te ry. So halfpad na Mzimba kom ons 'n rivier tee. Gaan ons omdraai of deurry. 'n Man met 'n motorfiets ry gemaklik deur die rivier. Ek stap af en besluit dat as hy dit kan doen kan ons ook. Ek stormloop die rivier en loop my rieme vas teen die oorkantste wal wat 'n modderpoel het. Ons kom nie teen die wal uit nie en besluit om terug te gaan want die rivier is soliede sand. Maar ons kom nie uit die modder tot op die sand nie. Ek grou al hoe dieper in totdat ek later op my aste in die sand lê. Ek probeer ons uitgrou met die hand. Ek is naderhand in my onderbroek. Ek het nogal n crowd gehad wat gegiggel het in die agtergrond maar kry nie die bakkie van die sand af nie.
Ek moet so 500 meter stap voordat ek selfoonopvangs kry en bel vir Donald. So 3 ure later kom hy met die hilux aan. Ons wil net terug kamp toe en probeer die Colt op die sand kry en oor die rivier waar ons vandaan kom maar hy sit!
Ons jack toe die Colt op en sit planke onder sy wiele. Ons haak die hilux en sleep die bakkie uit teen die wal. Die hilux se starter werk nie en gelukkig kry ons die Colt uit sonder dat die hilux vrek.
Net so voor donker kom ons in Mzimba aan. Ek en Pa belowe onsself dat ons maar die veilige ompaaie gaan ry want ons het nou genoeg keer vasgesit vir een trip.
Nou wil ons nie weer 38 km terug kamp toe nie want ons het ongedane sake in die dorp en ons moet dan more weer inry. Ons kry 'n Guesthouse in die dorp wat kamers beskikbaar het. So 'n paar ure later weet ons hoekom die guesthouse vir ons plek het en die ander almal vol was. Want hulle is een van daai raserige plekke. Teen 02.04 sit hulle die klanksisteem af en raak dit die eerste keer stil. Oupa sê dat hy heerlik geslaap het. Ek kyk na hom met my rooi oë en kan dit nie glo nie. Brekfis was 'n disaster. So snaakse stukkie vleis wat veronderstel is om 'n worsie te wees en 'n koue omelet en toast wat swem in die olie.
By die kantoor wag verskeie mense vir betaling, payday want die Mazungu is hier. Kanyinga met sy besondere mooi klippe en die mielie verkoper met omtrent 'n ton se mielies. Ek lieg nie.
My bakkie se remme raas en sy liggie is aan. Samson haal die remme uit en gaan met hulle dorp toe. Nee jammer ons kry nie jou tipe remme in die dorpie, maar ons ken iemand wat hulle kan opbou. Na so 2 ure staan die bakkie met amper nuwe brieke en net so R400 later. Ek wonder wat hulle my in SA sou gekos het.
Ek en Pa sorteer die klip uit wat saam SA toe kom. Die vrag is al so 650 kg. Net so voor ons klaarmaak met ons groot taak hoor ons dat een van ons myne die moeder van al die kristalle uitgehaal het. Wel sien is glo. Ons pak die bakkie en jaag myn toe. Nou moet ek julle sê dat 'n myner net so erg as 'n visserman is, die vis is mos altyd groter as wat hy is. Wel die keer het hulle nie oordryf nie. 509 kg. I saw it with my own eyes. Die kristal was in stukke soos hulle hom uitgehaal het.
Ons kom so 7 uur by die kamp en kry 'n sopnat kamp. Die water staan damme op die grondseil. Ons fone is pap en ek ruk die Inverter uit om die foon te charge. Ons nightguard braai n paar mielies en ons maak curry mince mate.
Ray kom by die kamp aan en vertel van hulle sukses. Hy en die Pastoor gaan toe na die afgeleë myn om inspeksie te doen of die myn weer geopen kan word. Ray self het voorheen op die myn gewerk en sê vir die Pastoor dat daar waar hulle nou staan voorheen klip gepak was. Hulle begin daar in die grond rondkrap en 5 ure later het hulle tussen 700 tot 800 kg se klip. More gaan ons laai.
Dit reën nie nou nie en ons is so dankbaar vir die tussenpose.