Hier langs die meer gebeur dinge nog net soos dit 30 jaar terug gebeur het. Dit is Sondag en dan is dit die kinders se beurt om die potte en panne by die meer te gaan was net langs die groot hout boot wat regmaak om te gaan visvang.
Die klein meisiekinders is nie op hulle bek geval nie toe hulle sien dat ons wil fotos neem nie. 'give me money' Hulle weet hoe die toeriste ding werk. Hulle pla ons nie regtig nie maar die smouse doen wel. Hulle kom na jou lodge waar jy sit en koffie drink en hulle aanvaar geen verskoning nie. Hulle wil jou hulle skilderye wys en hulle curios. Want jy is hulle enigste bron van inkomste in die stil seisoen. Dit pla nogal.
Ons het besluit om die naweek meer toe te kom net om weg te kom uit die geroesemoes van lilongwe. Ons kom so laatmiddag by die meer aan en vat die eerste pad uit na 'n lodge. Die pad hou vir ewig aan en ons kom by so fancy verslete plek aan. Ek weet dit klink na 'n weerspreking, maar hier in Malawi is alles maar verslete. Gewoonlik werk omtrent niks nie. As jy warm water kry in 'n stort is dit soos 'n wonderwerk. Ek klim uit die bakkie en vra 'n prys. Only 22000 for a single room. Thanks but no thanks. Ons is nou op 'n tight budget. Ons ry verder. So teen skemer kry ons 'n paar lodges wat reg langs mekaar lê. Ons stop by die eerste een en klim nie eers uit ons kar nie want die blink motors in die parkeerterrein vertel die hele storie. EXPENSIVE!
Die lodge langsaan lyk verslete genoeg om goedkoper te wees. Ons onderhandel op die prys en kry R100 afslag. Die 2 aande kos ons 20 000 Kwacha vir altwee aande. Nog steeds duur maar ons betaal maar want ons is reg teen die meer.
Die kamertjies is knus maar charming. Oupa kry nie die warm water kraan oop nie en vat 'n koue stort maar ek geniet 'n lekker warm een. Net buite die kamer is die mooiste topiarie, 'n Olifant wat my haak met sy tand en met die stap ek in die oorhang van die grasdak wat my 'n klits hou teen die kop kap.
Ons wag vir John met sy trok wat reken dat hy die 2 dae wat dit ons gevat het om tot in Malawi te kom in een dag kan doen. Ons afspraak is vir more om te laai en ons sal sien of dit gaan gebeur.
Ons besluit om eers voëltjies te gaan kyk en by die vleilande word ons weer oorval deur klonkies wat of geld of leë bottels of jou pen wil hê. Naderhand raak dit irriterend en ons verkas na die curiomark waar elke ou ook alles aan jou wil verkoop. Die ou wat die gras helikopters maak wil jou wys hoe die propeller draai en van die telefoon wat weggesteek is in die huis se dak. Ons het geen budget vir curios nie en besluit om te kyk hoe die heel rykstes hier vakansie hou. By die Sunbird livingstonia lodge kos dit net R2600 vir 'n kamer. Ouch.
Langsaan is n kampplek in die paradys. Prentjiemooi, ek het al n foto opgesit by whatsap. Net 1500 Kwacha per persoon. So 2 km van daar is die Cool runnings oord. So rustige plek met tonne atmosfeer. Boek hoekie en strand banke op groen gras voltooi die prentjie. Annalie ek kom jou die plek wys en dan bly ons 'n paar dae hier.
Terwyl ons wag vir middagete kyk ons hoe hulle met fyn muskietnet visvang. Hulle vat 'n lyn met in vir so Km met 'n elle lang tou en roei dan terug land toe wat die tou dan deur 24 mense ingetrek word. Hulle vat seker 2 ure om die tou in te trek. Soos die net naderkom raak die strand al hoe meer crowded. Een van die clowns sê dat ons moet betaal vir 'n foto. Ek vertel hom dat ons boere is en dat hy maar sy truuks op die oorsese toeriste kan probeer. Stupid boy.
Na 2 ure kom die net aan land en dit wemel van kleurvolle vissies. Die arme goed is eintlik te mooi om proteïne te word vir 'n honger land. Die sowat asblik vol vissies bring net R300-400 in vir die 24 vissermanne en die middelman maak die geld as hy die vissies na Lilongwe toe neem.
Laatmiddag stap ons verby 'n Indiër miljoenêr se woning waar die jong seuns in die water speel met hulle jetskis. Die laning is gelyn met wit en rooi rose. Jy kan sien dat daar groot geld is. So n huisie langs die see. Maar die huisie kan ook in Boardwalk Manor gestaan het.
By die lodge is dit amper skemer en die Rumba musiek laat die toonbank bewe waar ek my koeldrank drink.