Soos Sas sê, jy is ons gemhunter van die familie. Ek voel nou soos 'n ware gemhunter. Die tentjie gee maar net 'n fraksie van 'n millimeter se beskerming teen die elemente. Vandag is my laaste dag hier by die myn voordat ek terugkeer Suid Afrika toe.
Die lewe is so suiwer hier. Die mense leef eenvoudig. Die internet en die die TV het nog nie hier uitgekom nie. Statistieke sê dat die gedeelte van Afrika meer as 50% van hulle geld op kos spandeer . Hulle werk letterlik net om te kan eet. My myners werk die hele dag hard vir 'n klein salaris wat net genoeg is om hulle kos te voorsien. Maar dan is daar geen werkverskaffing hier nie en die bietjie werk vir geld word baie waardeer.
Gister het ek saam met sersant Philemon Phompe van Mzimba af gery. Die Sersant sê dat hulle stasie nie 'n voertuig het nie. Hulle moet per fiets hulle patrolering doen. Hy bly hier met sy vrou en 4 kinders in 'n baie klein huisie. Hulle grootste probleem in die area is maar domestic violence agv drank misbruik. Hulle brou so 'n tipe mampoer wat amper net alkohol is. Die mense hier drink dit graag want dit is goedkoop.
Twee dae terug was ons by die mark in 'n naburige dorpie om bokvleis te koop vir die myners en hier was omtrent almal dronk van die mampoer. Hulle kan nie wag vir markdag want dit is ook groot drinkdag. Dit is nogal hartseer.
Madeliso my myn kaptein is 'n juweel. Hy het God met 'n passie lief en hy het sy pa verloor aan die drank en hy het ook 'n eed geneem om nooit in sy lewe te drink nie. 5.30 in die oggend kom roep hy my by die tent. Sir it is time for prayer. Sy geloof is groot, baie groot. Hy bid dit die Here die stene beter sal maak en die myners eerlik. Vanoggend het hy skoon die myners wat klippe steel weg gebid van die myn af. Hy begin al 4 uur die oggend te bid. Gistermiddag was ons na Dave Banda sê Ma se huis om vir haar te gaan bid. Sy weeg letterlik net 35 kg en sy is 'n lang dame. Asma en pyne oral was die klagte. Haar oë was skoon dof soos die lewe uit die oë gegaan het van al die pyn. My hart het uitgeroep na God en ek vertrou dat die Here haar aangeraak het.
Na werk het ek almal betaal by my tent en dan elke een se sakke deurgesoek. Die een ou het omtrent 30 gram se stene gesteel. Ek het geweet hy steel want ek het sy bodylanguage dopgehou. Dit is omtrent 10% van al my klippe wat ek gemyn het. Dit is 'n dergelike probleem.
Toe is ons na die finale sokker beker wedstryd vir die distrik. So 13 km van die myn af. My myners wou so graag die game sien. Ek het soos 'n seer vinger uit gesteek tussen die skare van so 400-500 mense. Die prysgeld was 1 miljoen Kwacha. Dit is baie geld vir die arm land. Almal staan skouer aan skouer reg om die baan op die kantlyne en binne die kantlyn is ouens met 'n lat. Waag net om jou voet oor die lyn te sit dan word jy gepiets. Maar as jou span 'n goal score is helfte van die skare op die baan. Dit is moeilik om te onderskei tussen die spelers want elke ou het omtrent 'n ander kleur broek en kouse aan. Wel die wit span het 3-1 gewen en my ouens was nie happy nie want hulle het vir die groen span geskreeu. Ek is toe braaf en sê dat die wit span my favorites was.
More gaan ek terug Mzimba toe om die container te probeer vol kry. Chris is met my nog net tot die einde van die maand dan is die verantwoordelikheid terug by my. Die Sjinese kom die 10de Augustus en dan sal ek sien hoe ernstig hulle is our hulle laer graad beryl want ek gaan nie aan met die mynery as hulle nie hulle beursies oopmaak nie.
Tot vlg maand wanneer die Sjinese kom...... To be continued........