Ek sit op die leë vliegtuig en dit voel onwerklik want als werk op die vliegtuig en alles is skoon en netjies. Ek dog ek vlieg met Ethiopië airlines maar die vliegtuig sê Malawi airlines binne.
By Blantyre maak ons 'n vinnige stop en die mense vra ons om eers deur paspoort beheer te gaan en dan weer op die vliegtuig te klim. Die lughawe is warm en na so 40 minute is ons terug in die lug om amper dadelik in Lilongwe te land. Groot is my verbasing om te sien dat George Mandula van Bollore Africa daar vir my wag. Hy maak 'n vinnige stop langs die pad om werkers te betaal wat sy mielies oes.
By sy kantoor gooi hy my met 'n curveball. Hy wil my R12000 ekstra vra omdat ons nie sy trok gebruik om die container te laai in Mzimba nie. Ek kla en hy kom af na R7700.00, ek kla nog een keer en hy kom af na R4800.00. Ek voel bedrieg want ek kan glad nie sien waarom hy die ekstra koste hef nie. Ek loop uit sy kantoor uit en is nou weer op soek na transport en dit voel soos laas maand van voor af. Hulle sien jou wit vel en sien groot geld en vat dan advantage van jou.
George laai my naby my guest house af. Toe wag ek vir 'n minibus. En ek ervaar weer een van daai tipiese Afrika ondervindings. Die taxi stop en hy lyk oorvol en ek moet indruk. 4 mense in 'n ry. En die musiek boom boom in jou ore terwyl die taxi die potholes dodge.
Die volgende oggend soek ek 'n nuwe distributor vir die hilux in die plek waar die potholes so groot is soos swembaddens. Jy kan 'n hele taxi in een van die gate parkeer. Na hewige kibbeling kry ek die prys af van 70 000 tot 55 000 maar hulle wil nie verder af nie. Dit is nou so 'n uur later en ek betaal toe maar die stewige prys.
Ek is nie lus om weer soos 'n sardyn in 'n blik te reis nie en betaal die ekstra geldjie om my eie sitplek in die coach bus te hê. Ek vat die heel voorste sitplek wat ekstra beenspasie het. Na drie en 'n half ure is ek in Mzimba.
My kamer het geen ceiling en die gordyn is net 'n lap voor die venster, maar die matras is OK en daar is 'n muskietnet. Ek het selfs warm water. Als vir R55.00 per aand.
Die volgende oggend is die distributor in die Hilux en hy loop weer. Maar nou lol die starter. Dan start by en dan wil hy nie start nie. Amper soos die ou wat vir Koop gevra het om te doen of die flicker werk. Ja hy werk, nee by werk nie, ja nou werk jy weer.
Die stoor lyk netjies en ek en Chris gesels land en sand. Strategieë word bespreek, hy is net bly om weer 'n ryding te hê wat werk. Die laaste 2 weke kon hulle omtrent nie by die myne uitkom want die Hilux het meer gestaan as wat hy gery het.
Ons wag die hele oggend vir die mechanic om die starter reg te maak en ons kon eers 1 uur weg na die myne
Hierdie opsomming is net vir Oupa. Hy sal dit baie waardeer.
Ons eerste stop is die Pastoor se myn. Toe ons verby die kampplek ry dink ek aan die lekker tyd wat ek en Pa daar gehad het. Maar groot is my teleurstelling toe ek niemand by die put kry nie en net 27 kg se klip. Ek kry vir Ray uiteindelik in die hande. Hy sê dat hulle nou net 2 werkers is en dat hulle besig is om te bench. Hulle werk nou aan die linkerkant se gat Pa. Hy wil sy eie put hê en ek moedig hom aan.
Toe gaan ons na Thole se myn en die hele wêreld is vol groot kristalle. 7 ton se produksie. Die grootste kristal is amper 200 kg en nog mooi daarby. My uitstaande betaling daar is amper R20 000. Almal glimlag groot want more kry hulle geld.
By die Luwasozi myn is gemoedere weer laag. Hier is net 20 kg se klip en amper alles lae graad. Die myn lyk nie asof hy gaan geld maak nie maar het van die beste klip as ons net die pockets kan kry. Die myn was voorheen gemyn deur 'n Italianer vir 6 jaar.
By Gausi myn tell ons 9 sakke op en hulle vra of ek hulle salarisse ook gaan betaal nadat ek seker 10 keer vir hulle gesê het saam met Pa dat ek nie weer salarisse gaan betaal nie. Hulle wil nie die geld vat nie en wil more eers ons kom sien by die warehouse. Ek sal net glimlag en vir Donald los om hulle te paai en hulle issues uit te sorteer.
Die goeie nuus is dat ek 'n ander shipper gekry het en dat hulle omtrent R8000 goedkoper is as die ouens wat ek laas gebruik het. Hoe sê hulle, die eerste keer sal jy altyd skoolgeld betaal. Nou moet ek net die klip gelaai kry.