Sunday 12 October 2014

Indiƫ

By die lughawe land ons van Abu Dhabi en die lughawe personeel is bang vir die Ebola virus. Hulle wil presies weet waar jy die laaste 6 dae was.

Dit voel onmiddellik 3de wêrelds wanneer die passasiers met daardie massiewe sakke wag vir die doeane. Dit vat seker 2 ure om uit die lughawe te kom. Buite wag Shakeel vir my met 'n bordjie wat sê mr Gerdus. Die stad is verlate en pragtig. Alles is so briekrooi en wit geverf en oud. Ek wil sê dat almal moet teminste eenmaal Jaipur toe kom.

By die polo hou ek vreeslik van die wakker flink perdjies. Hulle enkels is goed beskerm want daai lang polo stokke kom met 'n spoed af. Die game is die lekkerste net langs die baan waar jy die gesnork van die perde hoor waneer hulle verby jou hardloop en wanneer hulle tot oor die kantlyn hardloop en die mense moet spat om uit hulle pad te kom. Jou sintuie word verder gebombardeer wanneer die doedelsak band begin met hulle weemoedige liedjie geklee in hulle wit en rooi. Dit voel so koloniaal British. INCREDIBLE India!

By die stopstraat druk die vuil kind haar gesiggie teen die ruit en wys na haar mond en dan haar maag. Ek kry haar so jammer en my hart bloei vir al die straatkinders hier. Orals loop koeie rond en eet die vuilgoed wat net so op die strate uitgegooi word.

Terug by my kamer maak ons reg om van daai heerlike Indiese brode te eet en Dahl. Dit is so kerrie mengsel van boontjies. Heerlik! By die straat loop ons amper vas in 3 olifante wat straat afstap. Net in Indië!

Friday 25 July 2014

26 Julie

Soos Sas sê, jy is ons gemhunter van die familie. Ek voel nou soos 'n ware gemhunter. Die tentjie gee maar net 'n fraksie van 'n millimeter se beskerming teen die elemente. Vandag is my laaste dag hier by die myn voordat ek terugkeer Suid Afrika toe.

Die lewe is so suiwer hier. Die mense leef eenvoudig. Die internet en die die TV het nog nie hier uitgekom nie. Statistieke sê dat die gedeelte van Afrika meer as 50% van hulle geld op kos spandeer . Hulle werk letterlik net om te kan eet. My myners werk die hele dag hard vir 'n klein salaris wat net genoeg is om hulle kos te voorsien. Maar dan is daar geen werkverskaffing hier nie en die bietjie werk vir geld word baie waardeer.

Gister het ek saam met sersant Philemon Phompe van Mzimba af gery. Die Sersant sê dat hulle stasie nie 'n voertuig het nie. Hulle moet per fiets hulle patrolering doen. Hy bly hier met sy vrou en 4 kinders in 'n baie klein huisie. Hulle grootste probleem in die area is maar domestic violence agv drank misbruik. Hulle brou so 'n tipe mampoer wat amper net alkohol is. Die mense hier drink dit graag want dit is goedkoop.

Twee dae terug was ons by die mark in 'n naburige dorpie om bokvleis te koop vir die myners en hier was omtrent almal dronk van die mampoer. Hulle kan nie wag vir markdag want dit is ook groot drinkdag. Dit is nogal hartseer.

Madeliso my myn kaptein is 'n juweel. Hy het God met 'n passie lief en hy het sy pa verloor aan die drank en hy het ook 'n eed geneem om nooit in sy lewe te drink nie. 5.30 in die oggend kom roep hy my by die tent. Sir it is time for prayer. Sy geloof is groot, baie groot. Hy bid dit die Here die stene beter sal maak en die myners eerlik. Vanoggend het hy skoon die myners wat klippe steel weg gebid van die myn af. Hy begin al 4 uur die oggend te bid. Gistermiddag was ons na Dave Banda sê Ma se huis om vir haar te gaan bid. Sy weeg letterlik net 35 kg en sy is 'n lang dame. Asma en pyne oral was die klagte. Haar oë was skoon dof soos die lewe uit die oë gegaan het van al die pyn. My hart het uitgeroep na God en ek vertrou dat die Here haar aangeraak het.

Na werk het ek almal betaal by my tent en dan elke een se sakke deurgesoek. Die een ou het omtrent 30 gram se stene gesteel. Ek het geweet hy steel want ek het sy bodylanguage dopgehou. Dit is omtrent 10% van al my klippe wat ek gemyn het. Dit is 'n dergelike probleem.

Toe is ons na die finale sokker beker wedstryd vir die distrik. So 13 km van die myn af. My myners wou so graag die game sien. Ek het soos 'n seer vinger uit gesteek tussen die skare van so 400-500 mense. Die prysgeld was 1 miljoen Kwacha. Dit is baie geld vir die arm land. Almal staan skouer aan skouer reg om die baan op die kantlyne en binne die kantlyn is ouens met 'n lat. Waag net om jou voet oor die lyn te sit dan word jy gepiets. Maar as jou span 'n goal score is helfte van die skare op die baan. Dit is moeilik om te onderskei tussen die spelers want elke ou het omtrent 'n ander kleur broek en kouse aan. Wel die wit span het 3-1 gewen en my ouens was nie happy nie want hulle het vir die groen span geskreeu. Ek is toe braaf en sê dat die wit span my favorites was.

More gaan ek terug Mzimba toe om die container te probeer vol kry. Chris is met my nog net tot die einde van die maand dan is die verantwoordelikheid terug by my. Die Sjinese kom die 10de Augustus en dan sal ek sien hoe ernstig hulle is our hulle laer graad beryl want ek gaan nie aan met die mynery as hulle nie hulle beursies oopmaak nie.

Tot vlg maand wanneer die Sjinese kom...... To be continued........

Saturday 5 July 2014

6 Julie

By die lughawe sien ons rolle rooi tapyte en manne in luiperd velle wat rond dans. Hulle het toe net vir Mugabe verwelkom wat in sy eie vlug daar aangekom het. Alle verkeer word gestop want die entourage is op pad dorp toe. Flitsende ligte en loeiende alarms voltooi die prentjie. Afrika!

In Lilongwe beland ek in die rykmansbuurt en sien 'n ander sy van Lilongwe. Boardwalk Estates kan amper 'n paar lesse hier kom leer. Een kasarm van 'n huis op die ander. Ek soek slaapplek hier by die lodges maar gee toe maar op en gaan eerder middestad toe. Die pryse daar is 5 maal goedkoper.

Bekende geluide hier in Malawi maak mens vroegoggend wakker wanneer die Muslims hulle volgelinge roep tot gebed. Maar te erg is te erg. Hulle begin all 3 uur en hou 'n hele uur aan want dit is nou Ramadan. Die imam lees iets uit die Koran en sing dan iets en so gaan hulle aan vir 'n uur. Dan is ek wakker en kan nie weer slaap nie.

17 Julie
Mjinge myn, teen Zambië se grens. Die grens is letterlik 200 meter van my kamp. Dit is vroegoggend en ons word wakker met die Kwêvoëls en tortelduiwe. 'n Baie lekkerder klank as die Moslems se gesanik.

Gister sê Malenga vir my dat die mynery soos die lotto is en dit lyk nogal so. Geen wonder die gesnyde stene is so duur nie. Want dit vat 'n massiewe effort om die stene te kry.

Ek is nou so een en 'n half week hier en soek nog na die sweet spot. Die probleem is dat die pik en graaf net te stadig is na my liking. Vanoggend vertel Bentley my dat hulle net 4 meter van waar ons nou myn 'n groot stash gekry het van oor die een kg se gems in een dag. Ek trek nou by 72 gram se hoë graad stene in 8 dae en 16.5 ton se lae graad in my stoor.

Die aquamarine is deel van 'n antieke deposito wat eens die bodem was van 'n binnelandse see. Al die klippe is in een gruis laag neergelê wat bestaan uit, swart toermalyn, kwarts, mica en nog so verskeidenheid ander klippies. Binne hierdie konglomeraat kry jy so verdwaalde aquamarine of 2 wat 5-10mm groot is. Die kleur van sommige is 'n besondere blou wat as AAA geklassifiseer kan word. Wat beteken dit? Jy begin by A en gaan dan na AAAAA. Ek het nog nie die 5xA hier teegekom nie. Gaan ek geld maak hier? As ek my kostes kan laag hou sal ek sekerlik geld maak hier.

Die Sjinese kom volgende maand kyk hoe ons myn. Ek dink hulle gaan verbaas wees oor die primitiewe toestande en ook verbaas wees oor die omvang en grote van hoeveel beryl hier is. Ek is bly dat ek met my aankoms hier in 'n heel nuwe area 3 nuwe myne oopgemaak het. Die area het groot potensiaal. Die beryl wat hier uitkom het 'n donkergroen kleur wat dalk na 'n mooi donker blou kan verander as dit verhit word. Hou vir my duim vas dat dit wel so sal wees. Ek bring voorbeelde saam die einde van die maand om te verhit.

Ek het 'n lang lys van vereistes aan die Sjinese neergelê en toe het hulle sowaar die vermetelheid om te vra hoe ek hulle gaan terugbetaal. Ek het dadelik terugskryf dat daar geen terugbetaling gaan wees nie. Julle kom met die bereidwilligheid om te belê of julle bly in Sjina. My vereistes: Ek soek 'n kamp vir my myn. Voertuig en excavator. Ons sal maar sien hoe groot hulle die hand gaan oopmaak.

Die werkers kom almal van naburige huise en dit maak dit maklik hier want aan die einde van die dag raak die kamp stil en is dit net die naggeluide en o ja die een ou se hifi wat in die verte blêr. Pa klink dit bekend?

Nou ja laat ek terug myn toe om die werkers op te pas dat hulle nie steel nie.

Thursday 19 June 2014

19 Junie

Hong Kong

In die eetplek sit 'n Sjinees oorkant my en praat kliphard met homself. Buite klik klik klik die verkeersligte kliphard soos hulle van kleur verander. Almal hardloop van plek na plek met pakkies onder die arm. Die trokdrywer het lankal sy hemp uitgetrek want die temperature is in die 30.

Ek het besluit om vinnig Hong Kong toe te kom om my klippies te kom verkoop. Ek spandeer 'n baie interessante oggend saam met Jonathan om van plek na plek te gaan om te probeer om agter te kom wie van die mense nou werklik in aquamarine deel en wat is die werklike markwaarde van my klippe in die kompeterende mark waar almal net die beste soek. Ek kry 'n onrealistiese bestelling vir 10 containers vir amazonite can Yee On Gems. Sy prys is net $1.30 per kg. 'n Volgende plek offer my $3 per kg vir dieselfde klip en by Abbas gems sien ek die klip vir $45 per kg. Nou vra ek myself die vraag wat Confusios gevra het. "Wat is die lengte van die string?" Gou besef ek dat my klippe nie hoog genoeg geag word om gesog te wees in Hong Kong nie. Ek verkoop gelukkig die gross van die groter klippe aan Frank om net my koste te dek. ISMAEL sê my day die mark vir aquamarine nie in Hong Kong is nie maar in Bangkok.

Die Here lei my na 2 mense wat my lewe inpakteer. By Kady sien ek die mooiste aquamarine en hy vertel my sy storie. Dit is soos Gemhunt en nog beter. Die winste wat gemaak kan word is so groot. Hy admireer my want hy moes amper R400 000 uitlê om die pakkie te koop en ek begin vlg maand dieselfde tipe klip myn op die Zambië Malawi grens. En in 'n oomblik sien ek die lig. Want het die Here nie net twee weke gelede vir ons die belofte gegee nie en het hy nie gesê dat die gou gaan gebeur nie.

Al wat ek kan sê is dat julle my maar moet dophou om te sien hoe dit gaan gebeur. I believe because God had said it and He is not a man that he should lie.

More gaan ek Sjina toe om my klippe in te gee vir snywerk en om al die aquamarine traders te sien in Liwan Plaza en ook my vrou te sien want ons is vandag 27 jaar getroud.

Tuesday 29 April 2014

30 April

Ons moet die produksie opstoot en ons gaan koop ekstra grawe en ander goed. 'n Graaf kos R100 en ons moet 24 grawe koop. Saam met grawe is daar pikke, potte, waterkanne en 'n seil vir 'n dak wat elke myn nodig het. Ons laai Donald Mbewe se spannetjie en ry uit na sy myn. Net buite die dorp stop die verkeerspolisie my. Sir you have too many people on this vehicle. You are only allowed to carry 6 passengers. The fine is 5000 Kwacha. Die ou wat die betalings bewys uitskryf is in wit klere geklee met wit handskoene.

By die Luwawa lodge se pad draai ons af en Donald sê dat dit 20 km daar in is. 'n Afrika 20km op paaie wat enige mens sal toets. Die pad is nat en vol gate. Ek kan net 20 km per uur ry. So 3 km voor die myn kom ons nie by 'n bult uit nie en al 9 mense op die bakkie moet stoot. Die clutch stink naderhand en met 'n groot gesukkel kom ons die bult uit om te sien dat die ander kant van die nek weer steil af is en die suur in my maag brand my soos ek stress oor die trip terug want dan het ons geen mense om te help stoot. Die probleem met die bakkie is dat hy geen kompressie in 2 van sy silinders het nie en dat hy dus geen krag het teen die opdraandes nie.

By die nuwe myn steek die beryl sommer bo op die grond uit en ek kan sien hoekom hulle die plek gekies het. Ons laai die myners af en vat die pad terug.

Ek besluit dat daar net een manier is om die bulte aan te vat en dit is met spoed. Ek sit hom in 1ste en jaag hop hop teen die eerste bult uit. Ons maak dit net net teen die laaste bult uit maar al die geskud het die bedrading los geskud en die Hilux wil nie verder nie. Na so 30 minute se soek kry Samson die probleem en ons is weer op pad.

Die volgende oggend laai ons vir Kayinga Gama op en Martha Ngira en hak die trailer. Vandag moet ons 2 ton se klip laai met die bakkie wat geen krag het nie en ek sien nie uit daarna nie. Ek vat die stuur. Hulle sê dit is 70 km ver en ek las nog 20 km by want Oupa sê dat die klomp geen benul van tyd of afstand het nie. Die veerstelsel op die bakkie is nie goed nie en hy bokspring behoorlik op die slegte pad. Dit voel asof ek op een van daai masjiene is met die belde wat jou so skud. Dit vat ons 2 ure tot by die myn.

By die myn sien ek dat die tailgate hang soos my Colt s'n was voordat ek dit reggemaak het. Samson en Bonniface maak die tailgate vas en die bullbar voor ook vas.

Kanyinga haal n mooi parcel tantalite uit en my trip raak al beter. Hy het ook 400 kg se beryl. Dit het hom 9 maande geneem om die 400 kg bymekaar te maak. Dit is nou maar die realiteit by sommige myne. Kanyinga sê dat 'n mens nie haastig moet wees vir geld as jy myn nie. Maar ons kan nie daardie filosofie aanneem nie, want dan word jy net soos die Malawiers.

Toe vat ons die pad na Martha se myn. Sy reken dat sy 3 produserende myne het en dat sy een van ons groot verskaffers gaan wees. Vroeër die oggend het sy vir Chris tromp op geloop omdat hy rook. So gemoedere in die kar is effens styf.

Martha lyk nie asof sy presies weet waar haar myne is nie en ons moet 'n slag of twee omdraai en 'n ander pad vat. Uiteindelik kom ons by 'n village aan waar 'n klomp maer ou mense sit. Ons parkeer die bakkie en sy join hulle onder die lapa. Nou wag ons en so 2 ure later kom ons agter dat niemand weet waar die 2 ton klip is of die man wat die 50 sakke kom haal het vir die twee ton klip. Net die vorige naweek het ons Martha 20 000 Kwacha gegee om myn toe te gaan en alles te reël vir ons trip Dinsdag. Obviously was sy nie die naweek by haar myn nie en het sy die 20 000 vir ander goed gebruik. Dit gee nuwe betekenis aan die term "caught with your pants down". Eers is sy die righteous een wat Chris aanvat oor sy lewenstyl en toe vind ons uit dat sy nie so Kosher is omdat sy ons verseker het dat sy die naweek by haar myn was en dat als gereël is.

Toe ry ons maar net leë trailer terug en so 20 km verder slaan ek 'n pothole voor 'n brug en breek die trailer se hak morsaf. Gelukkig het ek die seker gemaak dat die trailer se ketting gehak is en ons kry gestop met die trailer voordat hy verloor. Nou kan ons net 20 km per uur aansukkel en kom eers donker by Mzimba aan.

Nou ry ons Mzuzu toe om die hilux uit te sorteer.

Saturday 26 April 2014

26 April

Vanoggend vroeg bel Chris my en hy is ongelukkig. Hy en Donald is aanmekaar. Chris het weer gisteraand gaan drink en een van die ouens het hom gaan klik by Donald. Die fout wat hy gemaak het is om saam met Samson die drywer kroeg toe te gaan en eers 2 uur die oggend by die warehouse te kom. Al rasende.

Vanoggend loop Donald hulle altwee in en toe spat die vonke. Donald noem vir Chris 'n dronkaard en hy neem eksepsie. Ek is mos goed met versoening en moes die 2 eers goed als laat uitpraat en toe laat bladskud.

Die oggend is dit baie besig met almal wat probeer om klip aan ons te verkoop. Ek koop 'n sakkie epidote vir goedkoop en so 'n bietjie gems. Een ou kom daar aan met mooi blou klippies en ek spandeer seker 'n uur om sy parcel te waardeer en kry 42.7 gram gem. Ek werk n prys uit van R500 vir die lot. Hy reken hy will R10 000 hê en ons is so vêr apart dat ek glad nie enige besigheid met hom kan doen nie.

Ons kyk na al ons opsies om die groot kristalle te gaan laai so 38km weg en besluit op 'n trekker en sleepwa. Die opsie is so twee derdes van die trok se prys. Die klip is hier en dit is nou al donker en almal werk oortyd want hulle soek geld. More is kersfees want dan moet ek almal betaal. Agtermiddag wou die starter al weer nie werk nie en ek kickstart die Hilux om 200 meter verder uit te vind dat die clutch se kabel gegroet het. Ek los die kar net daar en stap terug warehouse toe. Samson ruk die kabel uit en gaan soek 'n ander. Die Hilux sal hopelik more middag weer mobiel wees. Ons is nou behoorlik op met die voertuig.

Gister sukkel ek om oor die stuurwiel te sien en doen nader ondersoek. Die sitplek se mounting het 'n groot gat in die vloer van die bakkie gestamp en dit is hoekom ek so laag sit. Nogal snaaks né.

Vir die laaste 4 dae is die internet omtrent morsdood in Mzimba. Jy kan amper niks doen nie. Ek kan glad nie my online spreadsheets oopmaak nie en dit frustreer my. Dit sal 'n wonder wees as ek die blog kan post vanaand.

Friday 25 April 2014

23 April

Ek sit op die leë vliegtuig en dit voel onwerklik want als werk op die vliegtuig en alles is skoon en netjies. Ek dog ek vlieg met Ethiopië airlines maar die vliegtuig sê Malawi airlines binne.

By Blantyre maak ons 'n vinnige stop en die mense vra ons om eers deur paspoort beheer te gaan en dan weer op die vliegtuig te klim. Die lughawe is warm en na so 40 minute is ons terug in die lug om amper dadelik in Lilongwe te land. Groot is my verbasing om te sien dat George Mandula van Bollore Africa daar vir my wag. Hy maak 'n vinnige stop langs die pad om werkers te betaal wat sy mielies oes.

By sy kantoor gooi hy my met 'n curveball. Hy wil my R12000 ekstra vra omdat ons nie sy trok gebruik om die container te laai in Mzimba nie. Ek kla en hy kom af na R7700.00, ek kla nog een keer en hy kom af na R4800.00. Ek voel bedrieg want ek kan glad nie sien waarom hy die ekstra koste hef nie. Ek loop uit sy kantoor uit en is nou weer op soek na transport en dit voel soos laas maand van voor af. Hulle sien jou wit vel en sien groot geld en vat dan advantage van jou.

George laai my naby my guest house af. Toe wag ek vir 'n minibus. En ek ervaar weer een van daai tipiese Afrika ondervindings. Die taxi stop en hy lyk oorvol en ek moet indruk. 4 mense in 'n ry. En die musiek boom boom in jou ore terwyl die taxi die potholes dodge.

Die volgende oggend soek ek 'n nuwe distributor vir die hilux in die plek waar die potholes so groot is soos swembaddens. Jy kan 'n hele taxi in een van die gate parkeer. Na hewige kibbeling kry ek die prys af van 70 000 tot 55 000 maar hulle wil nie verder af nie. Dit is nou so 'n uur later en ek betaal toe maar die stewige prys.

Ek is nie lus om weer soos 'n sardyn in 'n blik te reis nie en betaal die ekstra geldjie om my eie sitplek in die coach bus te hê. Ek vat die heel voorste sitplek wat ekstra beenspasie het. Na drie en 'n half ure is ek in Mzimba.

My kamer het geen ceiling en die gordyn is net 'n lap voor die venster, maar die matras is OK en daar is 'n muskietnet. Ek het selfs warm water. Als vir R55.00 per aand.

Die volgende oggend is die distributor in die Hilux en hy loop weer. Maar nou lol die starter. Dan start by en dan wil hy nie start nie. Amper soos die ou wat vir Koop gevra het om te doen of die flicker werk. Ja hy werk, nee by werk nie, ja nou werk jy weer.

Die stoor lyk netjies en ek en Chris gesels land en sand. Strategieë word bespreek, hy is net bly om weer 'n ryding te hê wat werk. Die laaste 2 weke kon hulle omtrent nie by die myne uitkom want die Hilux het meer gestaan as wat hy gery het.

Ons wag die hele oggend vir die mechanic om die starter reg te maak en ons kon eers 1 uur weg na die myne

Hierdie opsomming is net vir Oupa. Hy sal dit baie waardeer.

Ons eerste stop is die Pastoor se myn. Toe ons verby die kampplek ry dink ek aan die lekker tyd wat ek en Pa daar gehad het. Maar groot is my teleurstelling toe ek niemand by die put kry nie en net 27 kg se klip. Ek kry vir Ray uiteindelik in die hande. Hy sê dat hulle nou net 2 werkers is en dat hulle besig is om te bench. Hulle werk nou aan die linkerkant se gat Pa. Hy wil sy eie put hê en ek moedig hom aan.

Toe gaan ons na Thole se myn en die hele wêreld is vol groot kristalle. 7 ton se produksie. Die grootste kristal is amper 200 kg en nog mooi daarby. My uitstaande betaling daar is amper R20 000. Almal glimlag groot want more kry hulle geld.

By die Luwasozi myn is gemoedere weer laag. Hier is net 20 kg se klip en amper alles lae graad. Die myn lyk nie asof hy gaan geld maak nie maar het van die beste klip as ons net die pockets kan kry. Die myn was voorheen gemyn deur 'n Italianer vir 6 jaar.

By Gausi myn tell ons 9 sakke op en hulle vra of ek hulle salarisse ook gaan betaal nadat ek seker 10 keer vir hulle gesê het saam met Pa dat ek nie weer salarisse gaan betaal nie. Hulle wil nie die geld vat nie en wil more eers ons kom sien by die warehouse. Ek sal net glimlag en vir Donald los om hulle te paai en hulle issues uit te sorteer.

Die goeie nuus is dat ek 'n ander shipper gekry het en dat hulle omtrent R8000 goedkoper is as die ouens wat ek laas gebruik het. Hoe sê hulle, die eerste keer sal jy altyd skoolgeld betaal. Nou moet ek net die klip gelaai kry.