By die lughawe land ons van Abu Dhabi en die lughawe personeel is bang vir die Ebola virus. Hulle wil presies weet waar jy die laaste 6 dae was.
Dit voel onmiddellik 3de wêrelds wanneer die passasiers met daardie massiewe sakke wag vir die doeane. Dit vat seker 2 ure om uit die lughawe te kom. Buite wag Shakeel vir my met 'n bordjie wat sê mr Gerdus. Die stad is verlate en pragtig. Alles is so briekrooi en wit geverf en oud. Ek wil sê dat almal moet teminste eenmaal Jaipur toe kom.
By die polo hou ek vreeslik van die wakker flink perdjies. Hulle enkels is goed beskerm want daai lang polo stokke kom met 'n spoed af. Die game is die lekkerste net langs die baan waar jy die gesnork van die perde hoor waneer hulle verby jou hardloop en wanneer hulle tot oor die kantlyn hardloop en die mense moet spat om uit hulle pad te kom. Jou sintuie word verder gebombardeer wanneer die doedelsak band begin met hulle weemoedige liedjie geklee in hulle wit en rooi. Dit voel so koloniaal British. INCREDIBLE India!
By die stopstraat druk die vuil kind haar gesiggie teen die ruit en wys na haar mond en dan haar maag. Ek kry haar so jammer en my hart bloei vir al die straatkinders hier. Orals loop koeie rond en eet die vuilgoed wat net so op die strate uitgegooi word.
Terug by my kamer maak ons reg om van daai heerlike Indiese brode te eet en Dahl. Dit is so kerrie mengsel van boontjies. Heerlik! By die straat loop ons amper vas in 3 olifante wat straat afstap. Net in Indië!